Lawaai laat inwoners bang en kinders kwaai
‘Ons weet waar jy bly ou man, vir jou maak ons dood’

Harde musiek en kattebak-kuiers is die afgelope week stopgesit in eMalahleni na klagtes van rusverstoring gelê is by die polisie.
“Om middernag wakker te skrik van ’n geraas en blêr van musiek is nie goed vir enige man van my ouderdom se hart nie,” het mnr. Muzi Matukane gesê.
Op 1 Augustus het Matukane met ’n groot lawaai in angs wakker geskrik net om te sien dat die geraas van ’n paar huise af kom waar die jeug besig was om die nuwe maand met ’n ‘bang’ te verwelkom.
Matukane, wat woonagtig is in Springvalley, het verder vertel dat hy met ’n rustige gemoed na die jongmense gestap het en hulle mooi gevra het om hulle musiek net bietjie sagter te sit.
“Ek het hulle vriendelik gegroet en hulle bewus gemaak van die tyd. Daarna het ek vir hulle gevra om ons ouer mense te respekteer waar een van die jongelinge my toe begin vloek het,” het hy omgekrap vertel.
Die gevloekery het volgens Matukane verander in geweld toe drie jongmans nader gestap het en hom gedreig het met ’n stukkende glasbottel.
“Ek wou nie met hulle geraas het nie en ek wou ook nie hê dat die situasie in geweld moet ontaard nie. Ek het toe maar omgedraai en weer na my huis gestap.” het bygesê.
Terwyl hy teruggestap het, het hy gehoor hoe ’n bottel agter hom stukkend gegooi word met die woorde ‘Ons weet waar jy bly ou man, vir jou maak ons dood’.
“Ek het my vrou wakker gemaak en haar ingelig van die hele voorval en gesê dat ons moet vlug, want ek is met die dood gedreig. Ons het nie geweet watter kant toe nie. Hulle kon enige plek vir ons wegkruip en wag, ek het toe die polisie in kennis gestel,” het hy vertel.
Die polisie het by Matukane aangekom om die probleem uit te klaar maar die verdagtes en dié se voertuie was nêrens te sien nie.
“Die gebeurtenis gee my slapelose nagte, wat as die kinders by hulle woord bly en terugkom?”
Volgens die Ubuntu Plaaslike Munisipale Raad is rusverstoring teen die plaaslike wet.
“Geen persoon mag ‘n rusverstoring, produseer of veroorsaak met geraas nie, of toelaat dat sodanige rusverstoring gemaak, geproduseer of veroorsaak word deur enige persoon, dier, masjien, toestel of apparaat of enige kombinasie daarvan nie, hetsy in ‘n openbare plek of op privaat eiendom.”
LEES OOK:
Klap in die gesig vir troeteldiere
No sleep for residents as music blares