Vrou dood na verwoestende veldbrand
“Die ambulans het net te lank gevat. Leon het Alna agter op die bakkie gelaai en ek het met hulle hospitaal toe gejaag.”

’n Verslaenheid heers oor Balmoral nadat een van die omgewing se inwoners dood is kort na sy in ’n weghol-veldbrand verbrand het.
Me. Alna Nortje (45) het Saterdag 8 Oktober beswyk na die brandwonde wat sy in die veldbrand opgedoen het.
By haar winkeltjie, Autumn Leaves wat sy op hul plot bedryf het, het haar familie en vriende woordeloos gehuil oor die vrou wat beskryf is as iemand wat haar lewe vir ’n ander sou gee.
“Ons het nie antwoorde nie, ons het vrae …” het haar man, mnr. Kobus Nortje gesê.
Mnr. Nortje het gesê Alna en haar pa mnr. Andries Kampher, het Woensdag 5 Oktober vuur geslaan na die vuur oor die pad na hul veld gespring het.
“Alna het geval en voor sy kon opstaan was die vlamme oor haar. Haar pa het probeer om haar te help, maar die hitte was te erg en hyself het gebrand,” het mnr. Nortje gesê.
Me. Igna Engelbrecht het gesê haar man, Leon en ander plaaslike inwoners was die hele week al besig om vure te slaan. Hulle was veral bekommerd toe die berg brand en hulle hoor die vuur het na die Nortje’s se plot gespring.
“Ek het Leon in die agtermiddag gevra om te gaan kyk of Alna-hulle hulp nodig het. Toe hy daar kom het hy gesien sy het gebrand en my gebel om die ambulans te bel en komberse te bring. Alna het regop gestaan, ek dink dis van die adrenalien” het Engelbrecht vertel.

Me. Alna en mnr. Kobus Nortje en hul dogters Shané en Bianca.
“Die ambulans het net te lank gevat. Leon het Alna agter op die bakkie gelaai en ek het met hulle hospitaal toe gejaag.”
Alna is dadelik in Life Cosmos Hospitaal se intensiewe-sorgeenheid opgeneem met derdegraadse brandwonde oor 80% van haar liggaam.
Die vuur het aan die westekant van Balmoral naby die N4-snelweg begin.
Mnr. Leon van Rooyen, ’n kontrakteur wat besig is met padwerke op die N4, het gesê hy het die vuur vroeg Woensdagoggend vanaf die brug wat Gauteng en Mpumalanga skei, gesien.
“Ek het die vlamme gesien, maar nooit besef watter skade dit besig was om aan te rig nie,” het hy gesê.
Mnr. Nortje moes inderhaas van Saldanhabaai waar hy werk, terugvlieg toe hy van die tragedie hoor.
By Autumn Leaves was die stilte tasbaar. Die geroep van ’n voël het deur die lug geklief. Op ’n houtbankie buite het mnr. Nortje sy hande krampagtig vasgeklem. Sy oë het hartseer en ongeloof weerspieël, ’n traan het wegkruipertjie tussen die harde lyne op sy gesig gespeel terwyl emosies oor hom gespoel het.
“Daar was geen gelyke aan Alna nie. Sy het keer op keer kos vir ander gegee. As hulp nodig was, was sy eerste daar om te help,” het hy gesê.
Hul dogter, Shané het bygevoeg dat daar gesê word dat Alna toe sy die verwoestende vuur gewaar, kinders by die museum gaan haal en na die veiligheid van hul plot geneem het.
Die Nortje-egpaar was 21 jaar lank getroud en Plot 2 op die plaas Eenzaamheid was die afgelope 17 jaar hul tuiste.
Nortje laat haar man en twee dogters, Shané en Bianca agter.
Intussen is mnr. Edwin Clarke besig om die stukke van sy lewe weer op te tel nadat sy huis en ook sy buurman, mnr. Willem Ratte s’n in puin gelê is.
“Ek het alles in my huis verloor, die leefarea, die kombuis, al ons klere, alles is tot as verbrand. Nog meer hartverskeurend is die weiding wat afgebrand het. Die boere het nie meer voeding vir hul beeste nie,” het Clarke gesê.
Gelukkig was sy stoor nie in die vuur beskadig nie, sodoende het hy darem nog sy gereedskap om mee aan te gaan.
“Ons is deur hierdie trauma, maar tussenin beleef ek die goedhartigheid van mense. Terwyl ons nog besig was om die vuur in die huis te blus het ’n vreemde vrou gestop en gevra watter grootte skoen en broek ek dra. Sy het verder as ek gedink en besef ek het niks klere oor nie. So het hulp van mense ingestroom, ons het nou gordyne, beddegoed, klere en kos wat mense geskenk het.
“Daar was selfs ’n skenking van ’n NG Kerk in eMalahleni, ek is nie eers ’n lidmaat van daardie kerk nie en hulle het gehelp. Die Here het engele op ons pad gestuur, tot dusver het ek net die goeie in mense ervaar.”
Die reën bly weg en die gras is vlambaar droog. Terwyl daar gebid word dat die hemele se sluise sal oopgaan, bly die boere op Balmoral paraat en op hul knieë want net een vuurhoutjie kan verskriklike nagevolge hê.
LEES OOK:
Vrou kritiek na brand haar oorval
Balmoral Brand – Alna se toestand versleg
