Vroue sterk aan na ongeluk
Dit gaan goed met die twee vroue wat oor die naweek uit hul motor geslinger is tydens ’n ongeluk.

Dit gaan goed met die twee vroue wat oor die naweek uit hul motor geslinger is tydens ’n ongeluk.
Me. Benice Stander het haar arm gebreek en haar ma, me. Esta Mac Leod is in die intensiewe-sorgeenheid van die Milpark Hospitaal in Johannesburg.
“My skoonma se een long het seergekry en sy het bloeding op die brein,” het Benice se man, Stefan gesê.
Die ongeluk Saterdag 24 Februarie het voor mnr. Henry Greyzenhout en sy gesin gebeur.
LEES OOK
Ma verloor twee seuns in ongeluk
“Ek het ’n wit Mazda opgemerk wat vanuit ’n systraat regs in OR Tambo wou indraai. Skielik het ’n wit Hyundai vanuit die niet verskyn,die rooi verkeerslig verontagsaam en in die wit Mazda vasgery. Ek moes skerp links uitdraai of die Hyundai het ons ook gestamp,” het Greyzenhout vertel.
Stander en Mac Leod is uit die Mazda geslinger en het op die teerpad te lande gekom.

Twee vroue is uit hul kar geslinger tydens ’n ongeluk Saterdag 24 Februarie in OR Tambostraat.
“Ek het met my bakkie voor hulle gestop om te keer dat daar oor hulle gery word,” het Greyzenhout vertel.
Mnr. Gene Jacobs, tesame met sy span van Legacy Emergency Specialists, en ’n plaaslike dokter was op pad Life Cosmos Hospitaal toe met ’n pasiënt van ’n fietsongeluk toe hulle op die ongeluk afgekom het.
“Gelukkig was die dokter saam met my in my noodvoertuig. Ons het dadelik gestop en hy het die twee vroue op die toneel begin behandel,” het Jacobs gesê.
Die bestuurder van die Hyundai het hoofbeserings opgedoen. Hy en sy vrou is ook na ’n nabygeleë hospitaal geneem.
