
’n Karbattery wat by ’n besigheid in Klipfontein gesteel is, is teruggekry danksy die flinke optrede deur lede van die South African Community Crime Watch (SACCW).
Die voorval het Woensdag 28 Februarie in die vroeë oggendure gebeur.

Die gesteelde karbattery wat in die vroeë oggendure teruggekry is, na dit by ’n besigheid gesteel is op Woensdag 28 Februarie (foto: verskaf).
Die bestuurder van die besigheid, mnr. Phil van Dyk het Maandag 5 Maart gesê dat die verdagte die battery daardie aand gesteel het en een van die wagte het onraad vermoed, en hom in kennis gestel.
“Ek het ingeroep op die SACCW se kanaal en een van hulle lede het die ou gesien met ’n battery loop. Ons het nie die man gevang nie, maar die battery is teruggekry. Dit is ook al wat gesteel is,” het Van Dyk gesê.
LEES OOK
Nog suksesverhale vir SACCW
Hy het ook ingelas dat die verdagte vermoedelik van langsaan af, oor die palissades gespring het om toegang tot die besigheid te verkry.
Mnr. JP Moore, reaksielid van die SACCW het op die noodkreet reageer en hy het gesê dat hy in die area patrolleer het toe hy ’n man gewaar met ’n oranje sak.
“Die man het ’n groen oorpakbroek gedra en ’n blou oorpakbaadjie. Ek het hom gevra wat in die sak is toe sê hy dat hy van Springvalley af kom. Ek het gesê dat hy die sak moet neersit en ook gaan sit, toe hardloop hy weg. Hy is in ’n erf in en ek wou nie betree nie. Ek het gevra vir ondersteuning van ander lede. Ons het ongelukkig nie die man gevang nie, maar die battery in die buurman se erf opgespoor. Hy moes die battery net daar neergegooi het,” het Moore vertel.
