Local newsNews

‘As jy omgee vir die dooies, sal jy omgee vir die lewendes’

Hy het gesê dat wanneer die gemeenskap saamstaan, daar werklik ’n verskil gesien kan word.

Dit is nie ’n geheim dat begraafplase nie meer is wat dit eens was nie. Om ’n familielid te ruste te lê is een van die grootste besluite wat die familie moet maak: begrawe of veras?

Mnr. Neels Koekemoer van The Funeral Home het Dinsdag 27 Maart gesê dat soveel ouer mense steeds verkies om begrawe te word.

Maar in eMalahleni se begraafplase is dit byna onmoontlik.

Nie net om die diens daar te hou nie, maar om net blomme op die graf neer te sit kan ook nie gebeur nie, aangesien die grafte so toegegroei is.

Daar is meer slaggate as pad oor en niemand hou die begraafplase meer in stand nie.

“Die plekke lyk verskriklik. Kromdraai Begraafplaas is ongeveer 20 kilometer van die dorp af – dis ’n weggooiplek. Om nie eers van Joubertsrus te praat nie, daar kan jy nie in nie en Pretoria Road Memorial Park is vol. Waar begrawe die mense dan hul geliefdes?” het Neels gevra.

Hy het vertel hoe hy in Middelburg, Kriel en Klerksdorp gaan begrawe.

Kriel Begraafplaas se ablusie is in ’n gehawende toestand (foto: Zita Goldswain).

“Niemand wil in ons stad begrawe nie. Ek het so drie weke gelede iemand begrawe, maar dit was ’n heropening. Die familie self het ongeveer 20 grafte rondom gaan skoonmaak, net sodat ons die diens daar kon hou,” het Neels bygevoeg.

Hy het gesê dat wanneer die gemeenskap saamstaan, daar werklik ’n verskil gesien kan word.

“Toe ek destyds die begraafplaas gaan skoonmaak het, ongeveer 10 jaar gelede, het ek seker 300 mense gehad wat kom help het. Twee weke, dan is die gras weer net so lank. In die winter word dit gebrand. Alle dienste in die stad het platgeval. “Agter die Protea Hotel is ’n privaat begraafplaas, wat deur die gemeenskap in stand gehou word. Dit is ’n plek om te sien. Hulle is nie afhanklik van die stadsraad om hul plek skoon te maak nie. Hoekom kan die Joodse gemeenskap ’n plek so mooi hou, maar ons kan nie? Ons stad het ’n privaat begraafplaas nodig, waar dit deur die gemeenskap in stand gehou word. Juis vir diè wie steeds verkies om begrawe te word.”

Neels het bygevoeg dat daar wel ’n nuwe begraafplaas is naby Leeuwpoort, maar daar is net heining om, dit is nog nie in bedryf nie.

De toestand en veiligheid van eMalahleni se begraafplase lei vele mense tot die besluit om eerder hul geliefdes te veras.

Neel het bygevoeg dat die kostes daaraan verbonde om in ’n ander dorp te begrawe iets vreesliks is.

LEES OOK:

Cemetery needs yet another trim

Moths do their part to clean up cemetery

“Die mense verstaan nie as ek hulle ’n sekere bedrag vra nie. Dit kos rofweg R5 800 vir ’n graf in Middelburg, as die oorledene van ’n ander dorp is. Ons gaan nie na eMalahleni se begraafplase as ons nie moet nie. Mense gee eenvoudig net meer nie om nie,” het Neels ten slotte gesê.

Die munisipaliteit is genader vir kommentaar rakende hierdie saak.

Mnr. Kingdom Mabuza het gesê dat die stadsraad op ’n skedule is en dat van die begraafplase reeds skoongemaak is. Hy het ook gesê dat die munisipaliteit wel die ander ook sal skoonmaak.

Alhoewel Kriel Begraafplaas se badkamers in ’n gehawende toestand is, kan die perseel steeds gebruik word.

Neels het genoem dat dit een van die begraafplase is wat hy eerder sal kies om te begrawe, in plaas van eMalahleni.

Neels het ten slotte gesê hy glo dat, “As jy omgee vir die dooies, sal jy omgee vir die lewendes.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button