
Die gesegde lui: “In lang grasse lê daar giftige slange,” maar hier in die stad lê vermeende inbrekers in lang gras en wag om toe te slaan.
Die afgelope drie weke het inwoners in die Reynorif woongebied onder ’n vlaag inbrake deurgeloop.
WITBANK NUUS het op 30 Maart berig oor ’n verdagte wat op heterdaad betrap is in Gasellestraat terwyl hy probeer inbreek het.
Ongelukkig het daar drie ander verdagtes gevlug in ’n nabygeleë bos in.
Op 6 April het die hoeveelste gesin deel geraak van die boewe se bose planne toe hul vroegoggend gif oor die muur van die huis in, Bennie Oslerstraat gegooi het en aan kameras gepeuter het.
“Die inbrake was stil gewees vir ’n hele rukkie, maar vandat die gras hier oorkant so hoog is, neem misdaad weer toe,” het die slagoffer van die inbraak gesê.
LEES OOK
Verdagtes vasgetrek tydens inbraak
Soveelste inbraak by besigheid
Die South African Community Crime Watch (SACCW) het al by twee geleenthede verdagtes gejaag tot by die einste bos, waar hulle dan net verdwyn.
“Ek weet die erf behoort aan ’n myn of groot maatskappy hier in eMalahleni, maar is nie seker wie in beheer is van die instandhouding nie,” het nog ’n inwoner, mnr. Petrus Botha bygelas.
In eMalahleni weet inwoners dat geen buurt meer veilig is nie en dat enige vorm van ekstra sekuriteit net op die ou einde kan bydra tot veiligheid.
Skakel gerus in op SACCW se oop kanaal op Zello by- https://zello.com/SACCW
