Local newsNews

MC se slymerige liefde

Van die oorspronklike 12 000 slakke is daar nou sowat 2 500 oor.

Daar is slymerige slakspore oral en jy moet mooi trap dat jy nie een van die duisende slakkies per ongeluk doodtrap nie, want hulle is goud werd.

MC Oosthuizen is ’n plaaslike slakboer, ja, jy het reg gelees, sy boer met tuinslakke.

Slakke is die besigste in die aand.

Sy vertel hoe opgewonde sy was toe sy vroeër vanjaar haar eerste 12 000 slakke ontvang het en nou is daar geen einde aan haar tyd wat sy in hierdie boerdery insit nie.

Van die oorspronklike 12 000 slakke is daar nou sowat 2 500 oor.

‘Clusters’ in die grond.

“Sodra die slakke eiers gelê het, gaan hulle dood.”

Sy het ’n broeikamer waar haar volwasse slakke leef, paar en ook eiers lê.

Sodra hierdie eiers uitgebroei het, skuif hulle na die ‘groenhuis’ of tonnels, soos MC daarna verwys, waar hulle dan gevoer word en van die sonneblom, hawer en rape leef wat sy geplant het.

Maar hulle kan nie net van plante lewe nie, aangesien hierdie nie genoeg voedingswaarde bevat nie. ’n Droëvoer-formule vorm ook deel van die slakke se dieët en daarom eet MC se slakke meel ook.

“Ek doen die tafels en my man Fanie doen die tonnels. Die slakke word in bakkies gesit waarin hulle eiers lê. Dit noem ons ‘clusters’. Diè eiers sit ek dan in bakke wat dan uitbroei. Die slakke lê daagliks eiers en gister se bak het ongeveer 13 200 eiers wat dan gaan slakke word.”

Fanie Oosthuizen in die tonnels.

Sy het vertel dat hulle plaas kleiner geraak het na hulle moes verhuis en sy het iets gesoek wat sy en haar man saam kan doen.

“Slakboerdery is ’n maklike tipe boerdery vir ’n vrou. Ek het na iets gesoek wat ekonomies is en die slakboerdery het gelyk na net die ding vir my.”

Die slakke word na fabrieke in Mosselbaai versend vir verwerking, waarna dit uigevoer word na talle oorsese lande waar die ‘vleis’ geeët word as eetbare escargot.

Die slym word vir kosmetiese doeleinders gebruik en in sommige lande word die eiers ook geniet as ’n tipe kaviaar.

“Ek hanteer ook die klein slakkies en ons moet elke dag die skadunet van die tonnels afspuit om dit skoon te hou. Ons maak ook gereeld die paadjies tussen die agt rye in die tonnels skoon. Die slakke loop vreeslik en ons wil nie graag die babas dood trap nie.”

Hulle het ’n 80% skadunet wat die tonnel vorm en MC het vertel dat dit ongeveer 4 grade warmer daar binne is as die temperatuur wat ons buite voel.

Sy het ook gesê dat in Suid-Afrika daar regdeur die jaar met slakke gebroei kan word, aangesien hulle kan aanpas by ons temperatuur en dit nie so koud is soos in Pooland, byvoorbeeld nie.

Dit is ook hier waar haar slakke vandaan gekom het.

Slakke slaap deur die dag.

“My grootste oes was ongeveer 1.7 kilogram eiers per dag. Ek is nou op ’n gemiddeld van so ongeveer 600 gram eiers ’n dag. Van die ‘clusters’ het ek so 120 per dag gekry maar is nou op ongeveer 40.

Sy het verduidelik dat sy sproeiers het waarmee sy die slakke elke dag om 17:00 wakker maak.

“Hulle is nagdiere, so hulle slaap deur die dag. Hier teen ongeveer 22:00 is hulle op hulle besigste. Dan krioel hierdie slakke behoorlik,” het sy laggend vertel.

MC het bygevoeg dat nadat ’n slak gepaar het, hy 14 dae later sy eiers lê. Oor 10 dae broei die eiers uit.

Die slak maak sy eie gaatjie in die grond waarin hy dan die eiers lê.

Groeiende slakke in die tonnel.

“Ek werk op ’n 10-ton sisteem wat beteken dat ek ongeveer 10-ton van my huidige werpsel wil hê.

MC het ook bygevoeg dat hulle met die Helix aspersa (Muller 1774), of die ‘witvoet’- slak boer.

So, volgende keer as jy daardie slakkie op jou bord in jou keel laat afgly, mag dit dalk net een van MC se slakkies wees.

Slakke wissel van piepklein na medium-grootte in die tonnel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button