Diewe is besig om hulself te help aan deure, vensters, krane, ligte, bedrading en enigiets wat hulle hul hande kan oplê by huise wat leeg staan.
Verskeie voorvalle waar leë huise geplunder word, is aangemeld die afgelope week.
Mnr. Frik van Dyk, reaksielid van die South African Community Crime Watch (SACCW) Maandag 16 April ’n noodoproep ontvang van ’n vrou wat vermoed dat iemand wil inbreek, maar sy het hom skrik op die lyf gejaag en hy het gevlug.

“Ek en Juan-Piere Moore het in die area patrolleer en op ’n leë huis afgekom. Ons het ook gesien dat die huis geplunder is en dat dit lyk of iemand daar slaap. Die deur van die huis was ook weg,” het Van Dyk gesê.
“Ons het dit daar gelos, notisie gevat van alles wat fout is met die huis en gery. Later die middag het ek oor die brug gery en ’n man sien loop met ’n deur. Ek het Flip Opperman laat weet en hy het bystand gelewer. Ons het die ou gevang en hom geboei en die polisie is na die toneel ontbied.” Die verdagte is in Oppermanstraat gevang.
Van Dyk het gesê dat die man gewapen was met ’n mes en ’n skroewedraaier.
Die deur wat die man gedra het, was verbind aan bogenoemde leë huis en die verdagte is gearresteer.

Hy het bygevoeg dat hy weer by die huis was, ander aktiwiteite daar opgemerk het maar niemand in die area gewaar het nie.
Nog ’n leë huis is in Reynorif geplunder, waar die man vasgetrek is en gearresteer is deur die polisie.
Van Dyk en Moore het ook gered wat hulle kon om hierdie huis reg te maak en te beveilig.
“Eienaars moet maar hul sekuriteit by die leë huis opskerp,” het hy ten slotte bygevoeg.
Me. Maureen Scheepers van SACCW het gesê dat leë huise baie kriminele elemente trek wat tans ’n groot probleem veroorsaak, aangesien so baie leë huise geplunder word.
