
Waardeur het mnr. James Frederick Brown gegaan voordat hy aan ’n hartaanval in ’n polisiesel in Ga-Nala dood is?
Die saak waartydens die 69-jarige Alzheimer-lyer van Ga-Nala dood is nadat hy vroeër die dag gearresteer is omdat hy nie kon onthou of hy vir die sjokolade betaal het wat hy by Shoprite gevat het nie, word op Maandag 7 Mei in Kriel Landdroshof voortgesit.
Omstanders het Dinsdag 8 Julie 2008 in afgryse gekyk hoe ’n gryskop man deur sekuriteitswagte van Shoprite in Ga-Nala omhoog na agter gedra is terwyl ’n groep van meer as 20 mense waarvan die meeste jeugdiges is die man slaan, byt, skop en krap.
Toe hulle vra wat aangaan het een van die kassiere glo geskree ‘kill him, he steals our chocolate.’.
Brown is net na 14:00 na die polisiestasie geneem waar hy omstreeks 18:00 dood in die sel gevind is.
Volgens Brown se dogter, me. Rose-Marie Steyn, het hy omstreeks 12:30 daardie noodlottige dag nege jaar gelede van hul huis in Springboksingel na die dorp se sakesentrum gestap en het almal op die dorp van sy siekte geweet.
Sy het destyds aan WITBANK NUUS gesê dat hulle bekommerd geraak het toe hy omstreeks 13:30 nog nie tuis was nie.
Intussen het een van hul vriende laat weet dat Brown vir winkeldiefstal in hegtenis geneem is.
“Ons het vir die polisie verduidelik dat my man Alzheimer se siekte het, maar hulle het nie geluister nie,” het Brown se vrou, Rosa, gesê. “ ’n Polisieman het aan my gesê hy het sy rewolwer op my man gerig omdat James so wild was.”
Maar toe die polisie na die selle terugkeer het hulle Brown op sy rug op die grond met sy kop in ’n plas bloed gevind. Volgens die polisie het Brown vermoedelik in die sel agteroor geval en sy kop gestamp.
Lees die volle artikel in die week se WITBANK NUUS- nou op die rakke beskikbaar.
