Local newsNews

Dean Herrick se Wurlitzer is veilig

Meer as 30 jaar se stof het soos ’n kombers op die orrel gaan lê.

Dean Herrick se orrel is gesien en dit is veilig.

Daar is ook geen twyfel dat dié orrel wat net onder die orkesbak in die teater vassit aan die befaamde orrelis behoort het nie.

Die orrel is in ’n toegeboude swart kas en die arms van die meganiese hysers hou hom stewig in plek.

Meer as 30 jaar se stof het soos ’n kombers op die orrel gaan lê, maar dit is ver van die water af wat onder die skag lê waarin die orrel op en af gehys was.

Mnr. Rudi Veldman, plaaslike orrelis en Dean Herrick geskiedenis kenner het gesê dié orrel is die orrel wat Dean destyds in sy huis in Parktown ingebou het.

Die Wurlitzer is veilig in die swart kas onder die orkesbak in die teater.

’n Traan het oor sy wang gerol en die res van die geselskap wat die teaterbestuurder mnr. Donald Mathavha, mnr. Leslie Ntuli van die plaaslike munisipaliteit se kuns-, kultuur- en sportdepartement en selfs die joernalis het skelm ’n traan afgevee toe die besef deurdring dat dié historiese skat veilig is.

Die orrel is in die vroeë 1980’s aangekoop en vir twee jaar lank het sy klanke die teater gevul.

Tot op ’n dag wat die meganiese hysers wat dit op en af gehys het, gebreek het.

Mnr. David van der Merwe, destydse besturende direkteur van die teater en dr. Arthur Hovis van die South African Theatre Pipe Organ Association het die ingenieursfirma, Rolfes, genader om die hyser te herstel. Die kwotasie het R700 000 beloop, maar die stadsraad het op daardie stadium nie die kwotasie aanvaar nie.

Na vele onsuksesvolle pogings, het die Wurlitzer vergete geraak en vir jare onder die teater se vloer gewag op iemand om hom in sy ereplek te herstel.

David is oortuig dat die stadsraad van 1983 ‘n fout begaan het met die aankoop en installering van die orrel.

Teaterbestuurder, mnr. Donald Mathavha, mnr. Leslie Ntuli van die plaaslike munisipaliteit se kuns-, kultuur- en sportdepartement het gesê hulle wil die historiese skat in al sy glorie herstel.

Die ontwerp van die stadsaal het nie voorsiening gemaak vir die orrel nie.

Insnydings, wat die struktuur van die orkeshyser en voorverhoog verswak het, moes gedoen word. Verder het die stadsvaders nie besef dat die instandhouding van so ‘n instrument geld en ‘n kurator vereis nie.

Leslie het vertel dat iemand in 2003 probeer het om die orrel vir R5 000 te koop.

Toe dit tydens ’n raadsvergadering op die tafel gelê is het hy sterk beswaar gemaak en so het die orrel die eiendom van die munisipaliteit gebly.

Volgens me. Nomsa Mazibuko van die Emalahleni Plaaslike Toerisme Organisasie is die Wurlitzer van onskatbare historiese belang.

“Ons is besig om toerisme in die Steenkoolstad te bevorder en om die Wurlitzer op ons lys van besienswaardighede te plaas gaan baie vir plaaslike toerisme beteken,” het sy gesê.

Sy het onderneem om die vonds met die Departement van Kuns en Kultuur op provinsiale vlak te deel sodat hulle kan help om die orrel in al sy glorie te herstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button