
’n Vrou is die naweek na bewering verkrag deur ’n rower wat gedreig het om haar dood te maak as sy skree.
Die 43-jarige vrou, wat anoniem gehou word om haar identiteit te beskerm, het vertel dat die man wat haar verkrag het, haar met ’n stuk gereedskap gedreig het.
Die verkragting het Saterdag 26 Mei in Secondstraat, Blancheville gebeur.
Die vrou het gesê sy stap gereeld Saterdae werk toe en dit vat haar gewoonlik sowat twee ure om by die werk uit te kom.
Sy het omstreeks 05:25 in Secondstraat opgestap toe iemand haar aan haar arm gryp.
“Die man het van nêrens af uitgekom, ek het hom glad nie gesien nie. Hy het my aan my arm gegryp, op die grond gedruk en in my sak gegrou vir my selfoon terwyl hy my met die stuk gereedskap gedreig het.”
LEES OOK
Volgens die vrou het die man toe sy broek op sy knieë afgetrek, haar langbroek afgetrek en haar verkrag.
“Hy het doodeenvoudig opgestaan, sy broek opgetrek en weggestap.”
Sy het gesê geen karre het tydens die voorval verbygery nie en sy was te bang om te skree omdat hy gedreig het om haar dood te maak.
Toe sy by die werk kom, het sy dadelik die polisie gebel.
“Hy het nie net my selfoon gevat nie, hy het ook my menswees gesteel. Ek wens vir hom die doodstraf toe.”
Die vrou is na ’n hospitaal geneem waar sy ondersoek is en op antiretrovirale middels geplaas is.
Lees die VOLLE BERIG in die uitgawe van WITBANK NUUS vandag op die rakke
