Local newsNews

Van moordenaar tot pastoor

“Hoe verduidelik jy liefde en vergifnis?”

“Jesus moet nog baie plekkies in my hart regmaak. Daar is nog baie stukkies in my menswees waar Hy daagliks werk.”

As jy in Nolan Edwards se geselskap sit, omhels ’n vreemde rustigheid jou. Dan begin hy sy verhaal vertel en kry jy ’n breukdeel van ’n sekonde om in hierdie pastoor se hart te loer. Wanneer sy oë sluier en sy mond weerloos aftrek, klap hy die deur na sy siel toe.

Nolan was as jong man ’n uitstekende bokser wat vyf jaar agtereenvolgend Springbokkleure in die weltergewigafdeling verwerf het. Hy was ook aangewys as WITBANK NUUS se Sportster van die Jaar.

In die laat 1980’s is hy egter skuldig bevind aan drie moorde op prostitute en gevonnis to drie keer lewenslange tronkstraf.
Hy het sy vonnis in C-Max in Pretoria Sentraal begin uitdien waar hy in afsondering probeer sin maak het uit die leuens, die rugstekery en die drama waarin hy verstrengel was.

“Dit het alles begin by springstof,” het hy oor die warm stoom van ’n koppie koffie vertel.

Dit was in die tyd met die verandering op die politieke landskap. Sy ouers was lede van die Boeremag en sy vriendekring het ook van hulle ingesluit.

LEES OOK

Lig en Lewe bied Paaskonferensie en Kruisstap aan

Dankie is net ses letters lank, maar dit beteken so baie

Nolan het gesê dat hy nie kon toesien dat die springstof wat by die destydse kommando gesteel was, gebruik word om ’n skool op te blaas nie, daarom het hy dit in ’n plaasdam op hulle plaas gegooi en die polisie verwittig.

“Die mense wat die springstof gesteel het, het teen my gedraai en ek moes pa staan vir die oortreding. Hulle was bitterlik kwaad vir my en tot vandag toe glo ek dit is hulle wat my ge’frame’ het en dis hoekom ek skuldig bevind is aan die moorde.”


Nolan Edwards.

Koerantopskrifte het die moorde op Joanna Mnisi, Sithuphugi Sibiya en Beauty Maleka uitbasuin. Selfs die destydse forensiese sielkundige van die polisie, dr. Micki Pistorius, het hom as ’n reeksmoordenaar in een van haar boeke beskryf.

“Daar het skielik baie dinge gebeur. Die polisie het probeer om my te kry om die ‘waarheid’ te praat. Die waarheid was dat ek geen benul gehad het van die moorde op die vroue waarvan ek beskuldig was nie. Dit was so oorweldigend. Ek het net ‘ja’ gesê op alles en gesê as hulle sê ek het dit gedoen dan is dit seker so.”

In sy sel, waar hy geen benul gehad het van tyd of datums nie, het hy iets ervaar wat hy tot vandag toe nie in die regte woorde kan omskryf nie.

“Ek het die gevoel gekry om te bid. Ek weet nie hoekom nie, ek moes net bid. Ek het op my knieë gegaan en gesê: ‘Here, U het my nou op my knieë, wat wil U van my hê?”

Nolan het ’n slukkie koffie gevat en gesê dat hy op daardie oomblik aan Jesus geraak het.

“Hy het langerige krulhare, op sy polse is die duidelike merke waar die spykers ingeslaan was, sy oë ….”

Hy het ongemerk ’n traan van sy wang probeer afvee toe hy woorde soek om Jesus se oë te verduidelik.

“Hoe verduidelik jy liefde en vergifnis?”

In daardie afgesonderde sel wat net een venstertjie heel bo gehad het, het Nolan vryheid begin ervaar.
Na twee jaar en drie maande het die seldeur eendag oopgegaan, hy is ’n sweetpak gegee en gesê hy is vry. Die staat het namens hom appèl aangeteken en hy kon nie met die moorde verbind word nie.

Sonder enige oriëntasie is hy op 9 November 1999 skielik in die samelewing teruggegooi. Hy het by sy ouers gaan bly, maar dit was nie lank nie of alles het net te veel geword.

“Ek was bang vir mense. Hulle het my net seergemaak, my verniel.”

Hy het weggeloop en vir 17 maande in die veld onder ’n boom naby MMS Plakkerskamp gaan bly.

Een oggend het ’n vrou verbygestap en daardie aand het sy vir hom pap en marog gebring. Sy en haar seun het beurtelings vir Nolan kos gevat. Hy het hier en daar los werkies gedoen en met die geld het hy kos gekoop, soms het hy selfs gesteel om iets te kan eet.
Stadig maar seker het hy sy selfvertroue teruggekry en stappie vir stappie terug in die samelewing inbeweeg.

Nolan is al vier jaar lank met René getroud. Sy en haar kinders het hom geleer om weer lief te hê, te vertrou en om te gee.

“As ek weer deur alles moet gaan om Hom te leer ken, sal ek weer die pad stap. Ek sal weer deur die hel gaan van beskuldigings, ek sal weer in afsondering in C-Max aangehou word en weer onder ’n boom gaan bly net om weer aan Hom te kan raak….”.

Nolan het onlangs ’n nasionale pastorale kursus voltooi, hy is tans besig met die praktiese sy van die kursus.

Nolan se lewe is soos ’n boksgeveg wat uit rondes bestaan. Die eerste ronde het hy die kruin van sukses bereik met sy sport, in die tweede ronde is hy beskuldig van moord. In die derde ronde moes hy homself weer vind en weer mens word. Nolan is nou besig om dié ronde vir Jesus te veg deur Sy Woord te verkondig.

Nolan se eerste boek is in druk en sal binnekort beskikbaar wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button