
’n Hartgebroke inwoner het gewaarsku teen honde wat vergiftig word in die Hoëveldpark-area.
Me. Marinda Luus, inwoner van die area moes vanoggend afskeid neem van haar honde nadat hulle vermoedelik ‘gifballe’ geëet het.
“Dit is so hartverskeurend om te sien hoe ons hond baklei om aan die lewe te bly. Ons het op die sekuriteitskameras gesien hoe ’n balletjie oor die muur gegooi word en die honde dit dan eet. Dit is beslis two-step, ons het braaksel in die erf gekry. Die een hond was nog warm toe ek by hom kom,” het Luus gesê.
LEES OOK
‘Two step’, die wals van die dood
“Ons was net vinnig weg. Ek dink hulle het ons huis dopgehou, die bure is ook nie daar nie. Dalk gedink ons is weg vir die dag of langer en het besluit om ons honde te vergiftig. Dit was begrafnis by ons huis gewees vandag.”
Sy het bygevoeg dat beide hul Jack Russels en ook opregte Boerboel vergiftig is.
“Die bure se twee Fox Terriers is ook dood,” het Luus gesê. “Ek wil nie hê ander mense moet deurgaan waardeur ons gaan nie. Pasop, wees waaksaam en verseker dat julle honde veilig is.”
