Poppies vir die bewusmaking van mensehandel
Mensehandel is die projek van die Vroue Landbou Unie (VLU) vir die jaar 2018

Mensehandel is die projek van die Vroue Landbou Unie (VLU) vir die jaar 2018. VLU Mpumalanga gee vrouens die geleentheid om hierdie pragtige poppies te brei.
Die poppies word gebrei om kinders, seuntjies en dogtertjies sowel as ouers bewus te maak van die toenemende ontvoerings, aanhouding en verkragting. Dit skep bewustheid by mense wat teen hul wil gedreig en mislei word om seksuele dade te doen.
Naas onwettige vuurwapenhandel en dwelmsmokkelary, is dit die derde grootste kriminele oortreding in die wêreld. Die provinsies waar die meeste mensehandel plaasvind is egter Mpumalanga, Limpopo en die Oos-Kaap. Sindikate is betrokke in die drie provinsies. In die Oos-Kaap is daar ’n kulturele seremonie waar kinders in die huwelik verbind word. Enige iemand kan ’n slagoffer word.

Die vroue wat die poppies brei is (van links, agter) Martie Vermeulen, Zelma Bester, Colleen Calderhead, Debbie Du Plessis en Elize Oosthuizen en (voor) Lida Posthumus en Wilma Van Zyl.
Die kwesbaarste mense vir mensehandel en die kulturele seremonies, is jong meisies, meestal tussen die ouderdom van vyf en 15 jaar. Armer dogters word met leë beloftes gelok en word dan só in die donker tonnel van slawerny en mensehandel vasgevang. Seuns tussen die ouderdom van 18 jaar en ouer word weer gelok deur pornografie en leë beloftes.
Deur hierdie poppies wat in jou hand pas, te brei en uit te deel, stuur ons weer liefde in die nare wêreld in. Saam met die liefde loop ’n boodskap hand aan hand. Die poppies gaan deur die Dignity-span by skole uitgedeel word. Die poppies is só uniek en het ’n spesiale betekenis wat elke kindjie saam hom moet dra en koester.
Die poppies simboliseer dat jy uniek en handgemaak met liefde deur die Almagtige Vader gemaak is. Daar is niemand soos jy nie, so ook is elke poppie anders en uniek op sy eie manier – nie twee lyk dieselfde nie. Jy is uiters waardevol; geen geld kan jou koop nie – nes die poppies nie gekoop kan word nie; dit word verniet uitgedeel. God wil jou veilig hou in die palm van sy hand, nes die poppie in die palm van jou hand gehou kan word. Seuns ontvang dan ook die poppie en sodoende onderneem hulle om nou ’n seun en later ’n man te wees wat mooi na kinders en vrouens kyk en hulle altyd oppas. Ware manne kyk mooi na vrouens en kinders.

Poppies wat deur die dames van VLU Mpumalanga gebrei is.
Daar is patrone vir die poppies beskikbaar in Engels sowel as Afrikaans vir die mense wat belanngstel om ook deel te wees van die hartroerende projek. Poppies kan afgelewer word by die WITBANK NUUS voor of op 9 Augustus 2018.
Indien jy meer poppies wil maak, kan jy steeds. Die projek hou aan tot en met die einde van die jaaR, alhoewel die meeste oorhandigings in Augustus plaasvind. As jy belangstel, kontak gerus vir Debbie du Plessis om jou patroon te kry by 082 556 9330.
