Local newsNews

Wat gemaak as jy ’n slang sien?

Met die hitte wat ons tans ervaar, kom kuier slange bietjie meer gereeld as in die winter.

Met die hitte wat ons tans ervaar, kom kuier slange bietjie meer gereeld as in die winter. Die eerste slang van die seisoen is reeds op Vrydag, 14 September, in Hoëveldpark gevang.

Meeste diere ontwaak nou na hul hibernasie tydperk en ongelukkig deel baie van die diere hul omgewing met mense en skep soms vrees wanneer hulle mekaar ontmoet.

Die bestuurder van Crocworld Conservation Centre, mnr. Martin Rodrigues het in ’n persvrystelling gesê dat mense moet verstaan dat slange respekteer en nie gevrees moet word nie.


Pofadder.

“Kinders moet ook geleer word hoe om te reageer wanneer hulle ’n slang teëkom, om dadelik hul ouers in kennis te stel, ’n veilige afstand te handhaaf en om die slang se bewegings dop te hou.”

Talle artikels is reeds in dié verband gedoen en Piet Wassenaar het vertel dat daar drie algemene slange in ons area voorkom, maar dat dit nie die enigstes is nie. Piet en Wouter Wassenaar het permitte van die Mpumalanga Parkeraad om slange te vang en veilig te hervestig.

LEES OOK

Seldsame slang kom wys oë

Huisslang toe al die tyd swart mamba

Drie van die gevaarlikste (maar nie enigste) slange in eMalahleni wat hy al teëgekom het, is die rinkhals, pofadder en nagadder.

“Die rinkhals spoeg en as jy so vier meter van die slang af is, behoort jy veilig te wees. Hy staan, maak ’n bak, trek sy kop bietjie terug en spoeg. Indien dit in aanraking met jou oë of op seerplekke kom, moet jy so gou moontlik spoel met water,” het Piet verduidelik.

Hy het bygevoeg dat indien enigeen ’n ‘dooie’ slang sien, hulle dit nie moet optel nie want rinkhalse maak of hulle dood is. Sodra die slang dan opgetel word, sal hy jou pik of na jou spoeg.

“Die grootte van ’n slang bepaal nie hoe giftig die slang is nie, van groot tot klein is hulle maar albei gevaarlik.”

Piet het bygevoeg dat die pofadder en nagadder ook redelik gevaarlik is en dat die pofadder nie so lank is nie, maar ’n redelike dik slang is. Die nagadder het ’n V op sy kop.


Rinkhals.

“Indien enige van die drie bogenoemde slange jou pik, is die rinkhals en pofadder se gif dodelik indien jy nie spoedig by die hospitaal te kom. Die nagadder is minder gevaarlik vir mense, maar daar is wel al hondesterftes aangemeld as gevolg van dié slangpik. Die nagadder se pik is baie seer,” het Piet gesê. “Een van die groter rinkhalse wat ek al gekry het was so ongeveer 1.3 meter lank, waar die pofadders maar so ’n meter lank is.”

Hy het ook bygevoeg dat die slange maar in velde bly en agter kos aan is. Hulle eet onder meer paddas en muise en is ook te vinde by rommelhope waar daar muise is. Hulle word ook naby vleie en riviere aangetref.

“Die slang besluit hoeveel gif hy jou gaan inspuit en die hoeveelheid gif hang af hoe ernstig die pik of wond is. Geen slang jaag jou nie. As hy vasgekeer word in ’n vertrek byvoorbeeld en nie kan uit nie, gaan hy uitkomplek soek. As jy in sy pad is, gaan hy jou waarskynlik pik,” het Piet ook gesê.

“Die ding van ’n pofadder is dat hy lê en wag vir sy kos. Dit gebeur dat die slang in paadjies lê en dan wanneer jy op die slang trap hy jou dan pik.”


Nagadder.

Hy het gesê dat die nagadder die giftigste slang is wat die meeste in ons stad voorkom.

“As jy nie 100% seker is van watter soort slang dit is nie, hanteer die slang asof dit giftig is. Probeer die slang dophou en bel dadelik, nie ’n uur of dag later nie.”

Piet het gesê dat slange nou uitkom vir kos, omdat dit nou warmer word en hy het gewaarsku dat die drie bogenoemde slange die mees algemene, maar nie die enigste slange in eMalahleni is nie.

“Moenie ’n slang optel en dink dis nie gevaarlik nie.”

Piet kan geskakel word by 072 808 1390 of Wouter by 072 243 5910.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button