Local newsNews

Bekende motorfietsryer los groot leemte

Huldeblyke stroom in na die dood van ’n gewilde motorfietsryer van die stad.

Huldeblyke stroom in na die dood van ’n gewilde motorfietsryer van die stad.

Danie Smith (49) het Sondag 11 November net voor 18:00 tussen Delmas en Bronkhorstspruit verongeluk. Hy het in ’n kar vasgery.
Daar heers nog baie onduidelikheid oor wat die ongeluk veroorsaak het.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die kar voor Smith ingedraai het.

Smith was die afgelope 30 jaar deel van die Gypsy Jokers Motorfietsklub en het vroeër die dag die klub se vergadering in Vereeniging bygewoon. Hy het met sy seun, Juan, se BMW 1000 gery.

Sy verloofde, me. Lindi Strydom het gesê dat baie vreemde dinge voor die noodlottige ongeluk haar slaaplose nagte gee.

“Danie het twee dae voor sy dood gesê as hy eendag doodgaan moet ek seker maak hulle speel Neil Diamond se treffer, ‘What a beautiful noise’. Dan het hy gevra moet motorfietse brul terwyl daardie liedjie speel,” het sy gesê.

LEES OOK

Motorfietslegende sterf

Motorfietsryer sterf week na ongeluk

Lindi het vertel dat Smith die oggend voor die ongeluk lank voor sy motorhuis gestaan en besluit het of hy met die bakkie of sy motorfiets moet ry.

“Die motorhuis se deur was toe en hy het lank net daar gestaan en staar. Hy het toe in die bakkie geklim en na Juan toe gery, die bakkie daar gelos met die idee om na die vergadering Juan se motorfiets weer terug te neem en ons sleepwa, wat by Juan is, aan die bakkie te hak en huis toe te kom.”

Net na die vergadering het hy aan die klublede gesê hy wil huis toe gaan omdat hy lus was vir malvapoeding wat Lindi vir hom gebak het.

Lindi het hom beskryf as die lawwe, besige en stoute rooikop wat net nooit stilgesit het nie.

Sy het hartseer na die selfoon in haar hande gekyk asof sy verwag het dat sy naam op die skerm sou flits en sy vir ’n laaste keer sy stem kon hoor.

In ’n hartroerende brief het sy geskryf: “My skat, my man, waar begin ek. My hart is so bitter seer, ek weet ek moet jou laat rus. Hoe doen ek dit, ek kan nie …”

Buiten Lindi en Juan laat Smith ook sy dogter Bianca agter.

Sy begrafnisdiens vind Vrydag 16 November om 14:00 uit Pinkster Protestantse Kerk Mooi Hawens Bedieninge in Watermeyerstraat plaas.

Motorfietsryers gaan om 11:30 vir 12:00 by The Funeral Home in Northeystraat bymekaarkom waarna hulle die stoet tot by die kerk begelei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button