Pasop vir die ‘SMOKE’ nagevolge
Twee tienerseuns het na bewering ’n swart pakkie goed gerook, genaamd ‘SMOKE’, wat lewensgevaarlik kan wees.

Twee tienerseuns het na bewering ’n swart pakkie goed gerook, genaamd ‘SMOKE’, wat lewensgevaarlik kan wees.
Maandagoggend het ’n SACCW (South African Community Crime Watch) reaksielid haar boeglam geskrik toe sy seuns in die pad sien lê.
“Ek het gesien ’n trok swaai uit, ek was toevallig in die area. Ek het ’n seun in die pad sien lê en gaan help. Dit was of die kinders heeltemal besete was. Een het sy arms heeltyd in die lug gegooi en so hoog getrap asof hy heeltyd trappe klim. Die ander een het gelê en ruk. Een van die seuns was in die pad wat ek toe uit die pad gesleep het,” het die reaksielid vertel.
Sy het bygevoeg dat sy een van die seuns se selfone gevat het en sy pa geskakel vir hulp.
“Hulle het op die grond rondgekruip.”
LEES OOK
Boomplant toe net so verkeerd soos boomrook
Een gearresteer vir kokaïne op straat
Die reaksielid het gesê dat die kind glo vertel het hy rook dit al vir ’n jaar lank en dit wil voorkom of die produk vinnig uitwerk.
“Die kind was al glo besig om na ‘normaal’ terug te keer op pad hospitaal toe. Ek het nog nooit so iets gesien nie,” het sy gesê.
Die reaksielid het bevestig dat dit wel skoolgaande kinders is en die een kind se pa was onder die indruk dat die kinders in die skool is, voor hy dié oproep ontvang het.

Hierdie pakkie is nie vir menslike gebruik.
Kapt. Eddie Hall, mediawoordvoerder van die Witbank Polisie is genader vir kommentaar:
“Dit is die eerste saak waarvan ons weet en ons doen ’n beroep op die publiek dat dié produk net so gevaarlik is soos dwelms. Dit is nie vir menslike gebruik nie en heel waarskynlik is die produk ook nie ‘skoon’ nie, maar gemeng met iets anders. Ons doen ’n beroep op die ouers, om hul kinders dop te hou en dat ouers moet kennis neem van die produkte te koop op winkelrakke.”
Hy het bygevoeg dat kinders met hul eie lewens speel en hy doen ’n dringende beroep op kinders om nie snaakse goed te rook wat hulle nie ken nie.
“Die goed is lewensgevaarlik. Moet dit nie koop en met dit eksperimenteer nie. Dis lewensgevaarlik,” het hy ten slotte gesê.
