Tentpenne in teer geplant in Aasvoëlstraat
Met verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die tent nie net in die middel van die pad opgeslaan

Inwoners van Aasvoëlstraat was die afgelope naweek afgesper in hul eie straat as gevolg van ’n tent in die middel van die pad.
Daar word beweer dat ’n inwoner ’n permit van die munisipaliteit verkry het om ’n tent in die middel van die pad op te slaan vir ’n begrafnisdiens wat plaasgevind het op 15 Februarie.

“Niemand is in kennis gestel oor die gebeure nie en toe ons Vrydagoggend weer sien was die pad afgesper,” het ’n woedende inwoner gesê.
Met verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die tent nie net in die middel van die pad opgeslaan is nie, maar ook vasgepen is in die teer.
“Hulle het die tentpenne in die teer in geboor. Ons het dadelik dit aangemeld aan die munisipaliteit waarop hulle heel rustig gereageer het dat die mense ’n permit het,” het sy verder vertel.
Permit of nie – dit is blatante skade tot die infrastruktuur.

Die inwoners wat die skade aangerig het was in kennis gestel om die pad reg te maak waar die penne ingeslaan was maar tot nou toe is geen werk daarvan gemaak nie.
“Wat hulle wel gedoen het was om die gate op te stop met sand. Maar dis waar dit seker gaan bly?”
Mnr Kingdom Mabuza, woordvoerder van die munisipaliteit het geen kommentaar gehad voor druktyd nie.