Local newsNews

Kapers kry nie kans teen man se elmboog nie

Daar is later vasgestel dat die vrou verskeie kere op haar bobeen gesny is, van die snye is 20cm lank

’n Paartjie wat oor die naweek amper gekaap was kan hulself gelukkig ag dat hulle nog leef.

Die man, wat anoniem gehou word op versoek, is in Emalahleni Private Hospital opgeneem.

Hy wag nou vir ’n skandering om gedoen te word om die skade aan sy armspiere te bepaal.

Hy het sy armspiere geskeur toe hy een van die kapers wat hul kar wou kaap, met die elmboog bygedam het.

Sy vriendin wat ook op versoek anoniem gehou word, het steke op haar bobeen gekry nadat sy met ’n mes gesny is tydens die kaping probeerslag wat Sondag, 24 Februarie omstreeks 22:45 plaasgevind het.

Die vrou het vertel dat hulle op pad terug huiswaarts was na ’n braai by vriende toe hulle by die verkeerslig op die hoek van Watermeyer- en Langenhovenstraat oorval is.

“My karvensters maak nie heeltemal toe nie as gevolg van ’n klein meganiese probleempie. Daar is net genoeg spasie vir ’n hand om deur te steek. By die verkeerslig wou ek nog my vriend se sigaret aansteek toe ’n hand van nêrens af die ruit aan die bestuurder se kant afruk,” het die vrou vertel.

In die gestoei om die onbekende man uit die kar uit te hou het die vrou se vriend ’n knoppie gedruk wat die deure oopgesluit het.

“Skielik is my deur oopgeruk en iemand druk sy hand tussen my bene in en skree hy soek my handsak en geld. Ek het ’n lem gesien blink. Alles was so ’n warboel en die man het bly skree hy soek my handsak en geld,” het die vrou gesê.

Haar vriend het dit reggekry om sy aanvaller met ’n elmboog te slaan, die kar in rat te kry en weg te jaag.

Volgens die vrou het die groep mans oor die N4 snelweg die hasepad gekies.

Daar is later vasgestel dat die vrou verskeie kere op haar bobeen gesny is, van die snye is 20cm lank.

Die man se bril is in sy gesig in geslaan en die swelsel in sy gesig en snymerke in sy gesig getuig van die worsteling.

Die paartjie is oortuig daarvan dat die aanvallers net hul voertuig wou hê.

“Ons sal nooit weer in die aand so laat op die pad wees nie. Motoriste moet asseblief versigtig wees en altyd paraat wees,” het die vrou gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button