Drie gewapendes wag vir vrou
Volgens die inwoner het sy vroeër die aand aan die slaap geraak voor die televisie

Daar word gesê dat alles wat na 12 uur in die aand gebeur, die doen en late van kwaaddoeners is.
En so was dit ook op 2 Maart net na 02:00 in Duvhapark waar drie gewapende mans by ’n huis ingebreek het.
Volgens die inwoner het sy vroeër die aand aan die slaap geraak voor die televisie.
Sy het glo wakker geskrik van ’n harde geluid wat uit die kombuis gekom het.
“Dadelik het ek gedink dit is een van my kinders wat dors geword het en iets gaan kry het om te drink,” het sy vertel.
Sy het na bewering gaan kyk of alles in orde is in haar kinders se kamer toe sy besef al twee kinders is vas aan die slaap.
“Ek is terug voorhuis toe en daar het drie mans my ingewag, een van hulle het ’n wapen op my gerig,” het sy bygelas.
Die drie booswigte het haar toe glo na die hoofslaapkamer gevat en gesê sy moet net daar bly tot hulle klaar is.
“In dié tyd het ek net bly bid dat hulle nie op my twee seuns sal afkom nie en hulle ook nie enige leed aandoen nie. Seker na 20 minute wat soos ’n leeftyd gevoel het, was daar doodse stilte in die huis. Ek het vinnig na my kinders se kamer gehardloop en hulle was steeds aan die slaap en bewus van niks nie,” het sy dankbaar gesê.
Die drie rowers het op vlug geslaan en geen arrestasies is tot nou gemaak in verband met die roof nie.
Polisie is besig om die saak deeglik te ondersoek.
