Local newsNews

Maar Helpende Hand kom tot die redding

Solidariteit Helpende Hand het vier splinternuwe skooltassies propvol skryfbehoeftes aan die gesin en ook die maat van die oudste seun geskenk

’n Pa van drie kinders was meer bekommerd oor sy kinders se skooltassies en skryfbehoeftes wat saam met die gesin se kar gesteel is, as die kar self.

Tydens ’n sportbyeenkoms wat Vrydag, 8 Maart by Laerskool Taalfees plaasgevind het, is ’n gesin se motor, ’n wit Ford Blazer gesteel.

“Ek het so blok ver van die hek af parkeer omdat daar nêrens anders plek was nie. Dit was chaos, daar was so baie karre,” verduidelik die ma van die kinders.

“My drie kinders en my oudste seun se vriend het almal hul skooltassies en klere in die kar gelos.”

Na bewering het die ma en die kinders die skoolgrond ingegaan en later die middag na die sport verby was na die motor teruggekeer, maar die motor was nêrens te vinde nie.

“Ek het histeries geword en my man onmiddellik gebel. Ek het hom gesê date k nie die kar kry nie en dat ek vermoed hy’s gesteel. Die kinders het net so tekere gegaan omdat hul skooltassies en klere nou saam met die kar verdwyn het,” vertel die ma verder.

In ’n gesprek met die pa van die kinders het hy gesê, “Die motor is nie so belangrik soos die kinders se tasse en skryfbehoeftes nie, wat my pla is dat my kinders nou sonder tasse en skryfbehoeftes skooltoe moet gaan.”

WITBANK NUUS het Solidariteit Helpende Hand genader en hulle het nie gehuiwer om te help nie.

Solidariteit Helpende Hand het vier splinternuwe skooltassies propvol skryfbehoeftes aan die gesin en ook die maat van die oudste seun geskenk.

Beide ouers was baie dankbaar vir Helpende Hand se bydrae.

“Ons kan nie genoeg dankie sê nie, baie baie dankie. Nou hoef die kinders darem nie die ‘ons kar met my huiswerk in is gesteel’ amper soos die ‘my hond het my huiswerk geëet’ verskoning te gebruik nie,” het die ma speels ten slotte gesê.

Maureen Scheepers, operasie-koördineerder van South African Community Crime Watch (SACCW) gee ’n paar wenke om sulke voorvalle te verhoed of indien dit wel gebeur, dit makliker te hanteer.

“Maak asseblief seker dat die voertuig gesluit is, parkeer ook eerder in areas waar sekuriteitswagte patroleer. Moet ook nie enige waardevolle items in die voertuig los nie. Indien jy nie jou registrasienommer ken nie, skryf dit neer en bêre die papier in jou beursie of agter jou foon-beskermer. In die geval van ’n gesteelde voertuig is dit van uiterse belang om al die spesifieke besonderhede vir die polisie te gee, hoe meer inligting, hoe beter.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button