Polisie soek ooggetuies na Dora se ongeluk
Die gips behoort oor so ongeveer drie weke afgehaal te word
Die ondersoek na die ongeluk einde Januarie by die OR Tambo- en Amsterdamstraat-kruising duur nog voort.
Die ondersoekbeampte a.o Susan Holtzshausen het gesê dat ’n klag van strafbare manslag ondersoek word na die ongeluk wat op 30 Januarie gebeur het waartydens me. Dora Theunissen, die bekende gesig wat by die kruising bedel, raakgery en mnr. Manie en me. Martie Venter beseer is.
Oom Manie, die bestuurder van die blou Kia is ’n dag na die ongeluk in Life Cosmos Hospitaal oorlede.
Tannie Martie is steeds in dié hospitaal.
Volgens ooggetuies het die bestuurder van ’n Toyota Quantum minibus ’n motor aan die kant verbygesteek wat gestop het omdat die verkeerslig rooi was.
Die minibus het uitgeswaai vir Dora wat in die pad gestaan het en ’n blou Kia getref.
In die warboel is Dora ook getref.
“Onder omstandighede gaan dit goed met Dora. Sy sukkel nog met die gips aan die been, maar kom darem oor die weg,” het me. Charlotte van der Sandt, Dora se skoonma gesê.
Die gips behoort oor so ongeveer drie weke afgehaal te word.
Mnr. Francois Theunissen, Dora se man het gesê sy help soms uit as hy karre oppas.
Hy het gesê sy raak paniekerig as hulle naby bewegende karre is omdat sy bang is hulle word raakgery.
Oom Manie is Dinsdag, 19 Februarie veras.
Vir Marius Venter raak die gemis na sy pa elke dag net seerder.
“Niemand van ons besef hoe belangrik dit is om vir die mense in jou lewe te sê hoe lief jy hulle het nie. Alles verander in ’n sekonde.”
A.o Holtzshausen het gesê dat die ondersoek gaan goed aan.
Hulle is op soek na nog ooggetuies.
As jy die ongeluk gesien gebeur het, skakel a.o Holtzhausen: 013 655 5102.
