Local newsNews

Boer van Ga-Nala doodgeskok

Jandré Bosman, (32) was besig by ’n watertenk op die plaas toe ’n leer aan oorhangende kragkabels geraak en hom doodgeskok het

Ongeloof heers nog in die Hoëveldse dorpie Ga-Nala na die dood van ’n bekende boer van die omgewing.

Jandré Bosman, (32) was besig by ’n watertenk op die plaas toe ’n leer aan oorhangende kragkabels geraak en hom doodgeskok het.

Dié fratsongeluk het Vrydag, 22 Maart op die plaas Nooitgedacht net buite die dorp gebeur.

“Daar was ’n leer aan die buitekant van die watertenk en een binne in. Ons dink Jandré was besig om die leer aan die binnekant uit te tel toe dit aan die kragkabels geraak het,” het sy broer, Jaco Bosman gesê.

Mnr. Gavin Cooper, paramedikus van Legacy Emergency Management was op die toneel en het dit beskryf as een van die hartseerste tonele wat hy bygewoon het.

“Ek het Jaco se bewende hande stadig weggestoot van die suurstofmasker af. Hy het desperaat probeer om sy broer te ventileer terwyl ons die nodige noodhulp toegepas het. Woorde was op daardie stadium nie nodig nie. Hy het geweet ….”

“Jandré het al goeie oeste gehad. Dit is nou God se beurt en Hy het reeds vir Jandré grond in die hemel voorberei vir nog beter oeste,” het Cooper gesê.

Jaco het Jandré beskryf as iemand wat altyd was waar dit vir hom lekker was.

“Die lewe het hom nooit gejaag nie… Hy het ’n baie vol lewe gehad. Hy was ’n karakter en die mense wat plaas toe stroom is ’n bewys van hoeveel mense vir hom lief was.”

Jandré laat sy ouers, André en Elana, twee broers en twee susters agter.

Daar sal Saterdag, 30 Maart, om 12:00 ’n informele gedenkdiens vir Jandré gehou word op die plaas.

Bel of WhatsApp vir Jaco: 072 443 5312 vir aanwysings na die plaas of vir verdere inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button