Local newsNews

65-jaar se deernis en liefde

Die liefdesverhaal het alles begin met ’n ‘blind date’

Om 65-jaar saam te vier is ’n fees vir die Pienaar egpaar en vertel hulle graag hulle liefdesverhaal oor.

“Ons het eintlik 67 jaar terug ontmoet en vriende geraak maar twee jaar later is ons getroud en het ons lewe saam begin,” het Lenie Pienaar begin vertel.

Die liefdesverhaal het alles begin met ’n ‘blind date’.

“Ek het destyds in die sentrale poskantoor gewerk en eendag ’n oproep van hierdie man gekry. Hy het my uitgevra op ’n romantiese afspraak en aangehou tot ek ingestem het. Ek sal nooit vergeet nie maar dit was ’n verhoogstuk genaamd “Geknakte riete”. Op daardie aand het Nico se stoel ook nog onder hom gebreek en hier sit die man op die grond soos die gordyne oopmaak,” het Lenie al laggend vertel.

Die egpaar meen hulle het meer as sewe sakke sout saam opgeëet deur die 65-jaar.

“Ons het wel mekaar altyd met respek en liefde hanteer,” het Nico bygelas.

Al die jare saam het die paartjie hulle drie kinders, Nico Junior, Kobus en Nita groot gemaak in eMalahleni en op die ou einde afgetree in Eden Park Aftreeoord.

“Dis moeilik om te glo as ons vir mense vertel dat ons nog nooit apart gaan slaap het nie, behalwe as ons in die hospitaal opgeneem was. Die laaste keer is ons albei dieselfde dag opgeneem in die hospitaal en was saam in dieselfde saal ook,” het Lenie ook vertel.

Nico meen die beste resep vir so suksesvolle huwelik is:

“Die seëninge van ons Hemelse Vader, asook wedersydse respek en liefde in ons gesin tussen ouers en kinders wat die lewe vir iemand weer positief maak met minder stres en bekommernisse.”
Verder volgens hom was hy die eerste oomblik wat hy sy oê op Lenie gelê het “smoorverlief op die fyn, mooi vroutjie van hom.”
Soos die egpaar lief-lief die gesprek afsluit sê Lenie so tussen deur, “Ek en Nico sal nooit ooit in die aand gaan slaap voor ons nie vir mekaar gesê het ons is lief vir mekaar nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button