Local newsNews

Nog ’n dag, nog slange

Sedert Januarie het Piet Wassenaar reeds 66 slange gevang, insluitend 21 molslang babas

Slange in ons stad is gereeld in die nuus.

Sedert Januarie het Piet Wassenaar reeds 66 slange gevang, insluitend 21 molslang babas.

Vroeër vanjaar het Piet ’n oproep van ’n besigheidseienaar gekry toe hy ’n slang op die werf gewaar.

Alhoewel dié sypikslang (Stiletto) hier ook voorkom, is die spesifieke slang van Steelpoort, nadat items by die besigheid van daar afgelaai is.

“Ons het eers koppe gekrap oor die spesifieke slang, want hy was so blou/pers. Maar toe vervel die slang en word toe swart soos die gewone kleur van die sypikslang. Wat hom gevaarlik maak is dat sy giftande horisontaal sit en wys na die agterkant van sy bokaak. Die tande sit effens aan die kant en kan nie vasgevat word soos ’n gewone slang nie, want die slang draai net sy kop om ’n vinger te pik. Alhoewel daar geen bekende sterftes is van die pik nie, is sy pik wel baie gevaarlik,” het Piet gesê. Die slang is na Nelspruit na Natuurbewaring geneem.

Piet het reeds verskeie ander slange ook gevang, wat molslange, pofadders en baie rinkhalse insluit.

“Die een molslang wat by my was het ek die Donderdag gevang. Die Sondag toe ek dit laat gaan, was daar 21 babas saam die slang in die buis,” het Piet vertel. “Ek vermoed die slang het die Sondagoggend die babas gekry.”

Daar is verlede week ’n pofadder in Reynorif gekry toe inwoners van die buurt paniekbevange bel en sê daar is ’n slang in hul huis.

Die slang kamoefleer homself op so manier dat dit byna onsigbaar is indien dit op ’n ligbruin oppervlak is.

“Die pofadder wag vir kos, so die slange sal gewoonlik aangetref word waar rotte of muise doenig is en waar hy ’n ‘lokval’ lê vir sy kos,” het Piet bygevoeg.

Op 11 en 13 Maart onderskeidelik is daar pofadders by Seekoeiwaterplotte en ook by Elandspruit gevang.

Die slang wat die meeste voorkom is die rinkhals en Piet het die seisoen reeds talle rinkhalse gevang.

Piet het weereens gewaarsku dat slange nie met die kaal hand hanteer moet word nie.

“As jy nie seker is watter slang dit is en of dit giftig is al dan nie, moet nie ’n slang optel nie. Dit kan ernstige nagevolge inhou indien ’n giftige slang jou pik. Ek kry foto’s van mense wat slange met hul kaal hande hanteer en vra dan ek moet die slang identifiseer. Hoe weet jy of die slang giftig is of nie”?

Indien ʼn slang gewaar word en veilig verwyder moet word, skakel die slangkenner, Piet Wassenaar by 072 808 1390.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button