15km met ’n kruis, vir Jesus
Paasfees is om die draai en daar is net paashase en -eiers waar jy kyk.
“Johannes 8:32 lees: Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
En dit is die vers waarop ons kerk gebou is,” so het Christo Swart gesê.
Paasfees is om die draai en daar is net paashase en -eiers waar jy kyk.
Maar die rede hiervoor is vir gelowiges baie belangriker as om slegs paaseiers weg te steek.
Lede van die CFWC (Christian Faith Worship Centre) het besluit om bewusmaking te skep op Saterdag 6 April en het met ’n kruis op die skouer 15 kilometer afgelê.

“Ons het by Buco begin en het tot by Toyota geloop. Daar het ons regs gedraai na Highveld Mall se kant, reguit verby tot by die sirkel. Daar het ons weer regs gedraai en is op tot bo by Mica in Reynorif, en verby Patriot. Ons het in Baywoodstraat gestop,” het Christo bygevoeg.
Hy het gesê dat dit die eerste keer was dat lede van dié kerk gestap het, alhoewel hy dit alleen al vantevore gedoen het.
Die is ’n satellietkerk in Krugersdorp onder leiding van prof. Gerrie Bester.
“Daar was ook mense wat nie aan ons kerk behoort nie wat saamgestap het en ons het hulle verwelkom. Dit was nie slegs ’n kerkgebonde stap nie.” Hy het ook gesê: “Dit gaan nie oor ons nie, dit gaan oor Jesus. Dit gaan nie oor paaseiers nie, maar oor die bloed van Jesus wat gevloei het aan die kruis. En dit is wat ons wou beklemtoon.”
Die kruis het ongeveer 20 kilogram geweeg en die stappers het op verskeie plekke gestop en gebid.
“Ons het op geduldbrug gestop, asook by die Mandela/Bethalstraat-interseksie. “Ek het ’n persoonlike verbintenis met hierdie verkeerslig spesifiek. Ons het oral gestop en gebid vir minder padongelukke en vir veiliger paaie,” het Christo bygevoeg. “Ons beplan om volgende die R555 aan te durf.”
