Oom Koos Farrell vir eers klaar met misdaad veg
Hy het besluit om vir eers die misdaadleisels oor te gee aan iemand anders, nadat hy uitgetree het as dié buurt se voorsitter
Oom Koos Farrell is vir jare reeds ’n bekende gesig in Del Judor Proper.
Hy het besluit om vir eers die misdaadleisels oor te gee aan iemand anders, nadat hy uitgetree het as dié buurt se voorsitter.
“Ek het lank hieroor gedink, en my gesondheid is nou vir my belangriker. Ek het so maand gelede vir die ouens gesê ek is nou klaar, en Pieter Buys vat nou by my oor,” het Oom Koos gesê.
“Ek is reeds vir agt jaar voorsitter van die buurt. Ons was eers reaksielede van die GPF (Gemeenskapspolisiëringsforum), maar toe het ek en so paar ander mense besluit op ons eie buurtwag. Dit was so omtrent vier jaar gelede. Omstreeks twee jaar gelede is SACCW (South African Community Crime Watch) gebore en toe word ons deel van hulle. Ek is destyds gekies as voorsitter en het die buurt met ’n ysterhand regeer,” het hy trots vertel.
Hy het staaltjies vertel van hoe hy misdadigers verwilder het, en ook hoe hulle die buurt in die tussentyd beveilig het.
“Almal wat saam my die buurtwag opgebou het, was steeds hier. Ons het nou die leisels oorgegee. Nadat ek verkies is as voorsitter daai tyd, het ek begin om die buurt op te bou tot waar dit vandag is. Maar, dit is nou tyd dat ek en my vrou op ons stokperdjies fokus, en my gesondheid laat dit nie meer toe nie. Jy weet, ons patrolleer elke aand van 21:00 tot 05:00,” het hy ook gesê.
Oom Koos het vertel dat hy en sy vrou hengel en dit is waarmee hulle hulself gaan besig hou.
“Mens moet bietjie rustig raak en afskaal.”
Pieter Buys is opgewonde om die buurt onder sy leiding te neem.
“Dit is mos altyd uitdagend om iemand anders se skoene vol te staan. Dit is baie onbekend maar ons sien uit,” het hy ten slotte gesê.
