Spesiale rooiborskurper kan jou R15 000 in die sak bring
Die doel van die geleentheid was om fondse in te samel om skoolklere en skryfbehoeftes vir behoeftige leerders van die omgewing aan te koop
Loskopdam Forever Resort was op Skrikkeljaar ‘n miernes van bedrywighede toe visvangers en ondersteuners van regoor die provinsie byeengekom het vir die jaarlikse Liefdadigheids Visvangkompetisie.
Die doel van die geleentheid was om fondse in te samel om skoolklere en skryfbehoeftes vir behoeftige leerders van die omgewing aan te koop.
Dit het Saterdag, 29 Februarie plaasgevind.
‘Die visvangkompetisie was eintlik vir November verlede jaar geskeduleer maar het toe met die Wêreldbeker Rugby gebots en daarom het ons besluit om dit vroeg in die nuwe jaar te hou. Die dag was ’n ongelooflike sukses met 110 inskrywings en ons het nagenoeg R50 000 vir liefdadigheid ingesamel,’vertel Monica van der Linde, oord bestuurder.
Deelnemers het die kans gestaan om groot pryse te wen wat ’n eerste prys van R10 000, tweede prys van R5000 en ’n derde prys van R3000 ingesluit het (vir beide boot en oewer hengel).
Daar was ook baie gelukkige trekkinge op die tafel en looitjiekaartjies is ook verkoop vir sommige pryse Die wenners was: JJ Strydom en Gordon Neubert (boot en oewer), Jo Potgieter en Dhewpand Rampal (boot en oewer), Dhewpand Rampal en Andre Strydom (oewer en boot) en die junior wenner was Ryan Lottering (boot) ’n Spesiale rooiborskurper is ook twee dae voor die kompetisie gevang en gemerk.
’n Gelukkige hengelaar kon R15 000 wen indien hulle die vis kon uittrek.
‘Ongelukkig het die vis die hengelaars ontglip, maar indien jy tussen 1 en
21 Maart ingangsgelde by Forever Loskopdam betaal om te kom visvang, en jy vang die gemerkte vis, kan jy steeds R2000 wen,’ sê Van der Linde.
Van der Linde sê hulle is alreeds met skole in die omgewing in gesprek om die fondse wat ingesamel is te allokeer.
Sy het haar dank aan die deelnemers en borge uitgespreek wat tot die sukses van die dag bygedra het.
