
Selfs al reken jy dalk dat jy ‘nie te veel gedrink het nie’ is die realiteit dat alkohol ’n effek het op jou bestuursvermoë, jou reaksietyd, jou oë en hand- en voet-koördinasie – Vier sulke gevalle het weereens bewys dat drink en bestuur dodelik is.
Net die afgelope week is daar menige sake van dronk en roekelose bestuur oopgemaak by Witbank Polisiestasie.
“Dit is hartseer om te weet dat nog twee mense hul lewens veloor het in so situasie,” het die woordvoerder van Witbank Polisiestasie, sers. David Ratau gesê.
Met die drankverbod wat gelig is op 18 Augustus het twee ongelukke in en om eMalahleni plaasgevind op daardie selfde dag.
In die een voorval is twee mense ernstig beseer en is tans in die hospitaal vir mediese behandeling.
Daar word beweer deur ’n ooggetuie wat gedurende die ongeluk agter die bestuurder van ’n blou Mazda gery het, “dat enkele minute voor die ongeluk die bestuurder vreeslik roekeloos bestuur het.”
In die ander voorval was daar glo twee voertuie betrokke by ’n kruising in die Sentrale Besigheidsgebied (SBG) in die middernagtelike ure waar drie mense ernstig beseer is, asook een persoon dood verklaar is op die toneel.
Volgens die Automobiel Assosiasie (AA) is twee-derdes van ’n bier of ’n drankie met ’n 5% alkohol-inhoud die wettige maksimum.
“Natuurlik is dit beter om glad nie te drink voor jy bestuur nie, maar dis waarskynlik onprakties of pure wensdenkery. Maar, sou jy enigsins verkeerd doen, kan jy vir ses jaar opgesluit word of beboet word en ook jou bestuurs-lisensie verloor. Om nie te praat van die manslagklag wat jy teen jou kan hê nie,” het Ratau bygelas.
Die feit bly wanneer alkohol matig gebruik word, kan dit inderdaad ’n bron van genot wees, maar om agter die stuur in te klim onder die invloed is ’n dodelike kombinasie.
