Jou kind is ’n teiken – bly waaksaam
Toe die ma opkyk toe staan daar ’n wildvreemde man langs die kant waar haar oudste is en probeer die deur oopmaak

“Pas julle kinders op,” is die angstige pleidooi van ’n ma nadat haar dogtertjie amper vanuit hulle kar gesteel is.
Die ma, wat gevra het om anoniem te bly, het gesê die gebeure van 20 Augustus bly voor haar afspeel.
“Ek bly al 30 jaar in eMalahleni en ons koop al vir jare by dieselfde winkel melk en brood. Maar vanmiddag kon heeltemal anders uitgedraai het as ek nie kopgehou het nie,” het die ma vertel.
Sy het ’n kennis gou dorp toe gevat en saam met haar twee dogtertjies in die kar gesit en wag terwyl die man gou by die winkel ingeglip het.
“Toe die man uitklim, toe sluit ek my kar soos ek gewoonlik maak. My tweejarige is op die ‘terrible two’s’ en ek het seker al 60 keer geraas, terwyl ons in die kar sit en my bloeddruk het behoorlik gestyg terwyl sy aangehou het. Ek het uitgeklim, die deur aan haar kant oopgemaak en haar pak gegee.”
Toe die ma opkyk toe staan daar ’n wildvreemde man langs die kant waar haar oudste is en probeer die deur oopmaak.
“Die deur wou toe nie oop nie, want ek het die deure gesluit en hy probeer toe om die passasierskant se deur voor oop te maak. Met dit klim ek toe dadelik terug in die kar en sluit die deure.”
Sy het gesê hy het rondgekyk om te sien of iemand hom gesien het en voor haar kar kom staan en gevra hoekom gee sy haar dogtertjie ’n pak.
“Ek het hom nie geantwoord nie, my kar aangesit en in trurat gesit.”
“Die man het toe na haar venster toe beweeg en dieselfde vraag gevra. Toe ek vir hom kyk het hy sy hand in sy sak gedruk. Hy het moontlik ’n mes in sy sak gehad.”
Die vrou het begin ry en eers na ’n rukkie teruggekeer om haar vriend op te tel. Toe hulle op pad huis toe is, het sy dieselfde man by ’n volgende winkel gewaar.
“Dit was baie naby of ek het vandag my vierjarige verloor as ek nie wakker genoeg was nie. As ek ook met hom begin praat het of gegil het of iets sou die situasie erger gewees het. In daardie situasie het dit gevoel asof ons in ’n tonnel was en ek het net op hom gefokus.”
Sy het bygevoeg, “Ek het nooit gedink so iets sal met my gebeur nie, maar hierdie is regtig skrikwekkend en voel ons moet ’n waarskuwing rig. Dit gebeur onder ’n mens se neus en niemand sien dit raak nie. En as ons gil of vra vir hulp, dan maak hy jou net daar dood.”
Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder het gesê kinders se veiligheid is eerste prioriteit.
“Hou altyd jou kardeure gesluit en waardevolle items weggesteek in jou kattebak. ’n Waardevolle item in sig sal enige dief nie twee keer nooi om jou venster te breek en dit te steel nie,” het hy gesê.
