CrimeNews

Polisie soek nog ooggetuies na man van fiets afgery is

As jy die ongeluk gesien gebeur het en inligting het wat die polisie kan help met hulle ondersoek, skakel a/o Susan Holtzhausen by 013 655 5102

Die polisie is besig met die ondersoek na die dood van mnr. Blackie Swart.

Swart is Dinsdag 20 Oktober in Witbank Hospitaal dood nadat daar tevergeefs om sy lewe geveg is.

Hy is aan verskeie beserings dood nadat hy vroeër die dag deur ’n taxi van sy fiets afgestamp is.

’n Ooggetuie het gesê die taxi was voor hom in OR Tambostraat, skuins voor Southfork Sentrum.

“Die taxi was links voor my en ek was in die middelbaan. Daar was ook ’n bus agter my. Ek vermoed die taxibestuurder het besef hy is in die verkeerde baan en het na die heel linkerkantse baan toe oorgedraai,” het die ooggetuie vertel.

Hy het gesê hy het gesien hoe die taxi hop en het gedink die bestuurder het oor ’n sypaadjie of die eiland in die middel van die pad gery.

“Ek kon my oë nie glo toe ek die man van onder die taxi se wiele sien uitkom nie.”

Die bestuurder van die taxi het gesê hy is geskok oor wat gebeur het.

Hy wou egter nie verder met WITBANK NUUS praat nie.

Swart bly al die afgelope 40 jaar in eMalahleni.

Dié myner het jare lank op Vandyksdrift gebly toe hy vir die myn gewerk het.

Hy het daarna by verskeie maatskappye gewerk.

Hy en sy vrou, Christine, was 36 jaar lank getroud.

Swart is ’n ou-bekende agter die mikrofoon.

Hy het gereeld karaoke gesing.

Hy laat sy vrou, vyf kinders en twee kleinkinders agter.

As jy die ongeluk gesien gebeur het en inligting het wat die polisie kan help met hulle ondersoek, skakel a/o Susan Holtzhausen by 013 655 5102.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button