Voertuie vlieg gereeld deur tuinmuur
Die familie het verder beweer dat daar net mooi niks gedoen word oor hul klagtes nie
Dit was die hoeveelste keer dat ’n voertuig deur die muur van inwoners in Tambourinestraat, Tasbetpark gevlieg het.
Op Maandagmiddag, 9 November het die Venter-gesin weereens met ’n slag en skok besef dat daar sopas ’n voertuig regdeur hul tuinmuur is.
“Ek was die eerste eienaar van die huis en die kere wat ek kan onthou wat daar sulke voorvalle gebeur het, is net te veel om op te noem,” het Piet Venter aan WITBANK NUUS vertel.
Dit word beweer dat die blou-grys Toyota Yaris teen ’n hoë spoed in die straat gekom het, hy’t beheer verloor en teen ’n boom gebots en is toe deur die Venters se muur.
“Ons het al talle kere gesoebat en smeek dat die munisipaliteit net iets doen om dié soort ongelukke te vermy. Ek het ’n dagsorg en kan jy dink wat sou met my gebeur het as die kinders buite besig was om te speel? Wat sou ek vir hulle ouers gesê het?” het die nuwe eienaar, Izelle Venter gesê.
Die familie het verder beweer dat daar net mooi niks gedoen word oor hul klagtes nie.
“Ek het al gesê dat ek dit self sal doen, maar dan word daar vir my reguit vertel dat ek self verantwoordelik gaan wees vir enige verdere ongelukke. Maar wie dink aan ons wat hier bly, wat die eiendom gekoop het? Wie vat verantwoordelikheid vir al die skade met elke ongeluk, ons!” het Venter verder gesê.
Die gesin is raadop oor wat hul kan doen en sal enige voorstelle van die regte kanale waardeer.
“Ons het al die DA, AfriForum en talle kere ook die munisipaliteit gevra om ons te help, want so kan dit ook nie aangaan nie. My dogter was op daardie oomblik toe ons die slag hoor, op pad na die swembad toe om hom skoon te maak, maar alle eer aan God dat almal ongedeerd daarvan afgekom het,” het Venter ten slotte gesê.
