Local newsNews

Covid-19: Dra ʼn wit strik vir ondersteuning en nuwe hoop

Gaan hang jou wit strik met trots om ʼn  hospitaal se deur en om die boom van jou bure wat kos tydens isolasie aangedra het.

Die liefdadigheidsorganisasie, Helpende Hand, het in Maart 2020 ʼn beroep op die publiek gedoen om wit strikkies te dra om solidariteit vir dokters en mediese personeel te toon wat tans in die voorste linies werk om die Coronavirus (Covid-19) te bekamp. Vandag vra Helpende Hand die publiek weer om op te staan in hul gemeenskap en samehorigheid in 2021 te wys deur nuwe lewe in die #Witstrik-inisiatief te blaas.

René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie, sê dat die gebaar in 2020 talle mense byeengebring het om vir een saak te staan: Ons mediese personeel in die voorste linies.

“Die bedoeling met die #witstrik-inisiatief in 2021 is nie net om ons dankbaarheid te betoon en die personeel in die voorste linies in gebed op te dra nie, maar om te wys wie of wat vir ons gerusstelling gee, veral noudat ons ʼn nuwe fase van hierdie vreemde virus betree,” sê Roux.

“Ons is ryp in die nuwe jaar, maar alreeds is daar vrees en onsekerheid onder die mense in ons land  ̶  mense wat die afgelope jaar geliefdes verloor het, besighede verloor het en selfvertroue en geloof verloor het. Helpende Hand glo dat ons hoopdraers van die beste gehalte is en ons wil graag saam met die mense in Suid-Afrika hoop vir 2021 bring.”

Volgens Roux kan enige persoon ʼn wit strik maak en dit by enige plek gaan plaas of aan iemand gee wat vir hulle gerusstelling, liefde of hoop gebring het en steeds bring.

“Om in dankbaarheid terug te kyk en in hoop vorentoe te beweeg, skep vir ons ʼn gedagtegang van geloof in die toekoms. Ek was en is dankbaar vir ons boere wat ten spyte van moeilike tye steeds aanhou help en gee het, en gaan dus my wit strik om ʼn nabye boer se plaashek hang. Ons vra die publiek om ʼn foto te neem van waar en by wie hulle wit strikke gaan uitdeel het. Plaas dit gerus op sosiale media met die hutsmerk #Witstrik, want ons wil graag saam met julle deel in wat julle hoop en gerusstelling gee,” sê Roux.

Gaan hang jou wit strik met trots om ʼn  hospitaal se deur en om die boom van jou bure wat kos tydens isolasie aangedra het.

Gee jou wit strik vir jou vriendin wat aanhou skakel het om te hoor of sy met die kinders kan help. Sit jou wit strik om jou hond se halsband as hy jou tydens afsondering gerus gestel het. Plaas jou wit strik dáár waar jy al vrede gevind het en waar jy dit steeds in 2021 sal vind.

“Ons moet onthou dat ons deur ʼn onvoorspelbare jaar is en dat ons nou ʼn nuwe hoofstuk van ons toekoms betree wat ons óf positief óf negatief kan aanpak. Die nuwe beperkings so vroeg in die nuwe jaar maak mens bietjie moedeloos. Ons moet iets tasbaars doen en onthou dat daar in selfs iets kleins hoop en genade vir ons wag. Kom ons gee ons wit strikke, wees positief, bring hoop en tree hierdie jaar sterk in,” sluit Roux af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button