Local newsNews

Selfoondiewe weer baie besig in winkels

Daar is slinkse diewe wat net wag om jou selfoon of beursie te gaps.

Knyp jou handsak styf onder jou arm vas wanneer jy inkopies doen. Daar is slinkse diewe wat net wag om jou selfoon of beursie te gaps.

Op 6 Junie is me. Fienie Kruger (50) haar selfoon kwyt toe twee vermeende diewe dit uit haar sak uit gesteel het.

Sy het ’n oproep ontvang terwyl sy in ’n winkel was en die selfoon toe in haar sak teruggesit. Die vermoede is dat die twee diewe Kruger en haar dogter me. Chantelle Kruger agtervolg het tot by die volgende winkel.

“By die vleisafdeling het een van die vroue ons pad versper met haar trollie. Die ander een het my ma ‘per ongeluk’ gestamp. Sy was glad nie aggressief nie. Dit is in daardie oomblik dat my ma se selfoon gesteel is,” het Chantelle vertel.

Toe Fienie besef haar foon is weg, het hulle agter die vrouens aangehardloop, maar die het soos mis voor die son tussen die rakke verdwyn.

Me. Natania Basson het op Facebook vertel dat dieselfde ook met haar gebeur het.

Sy het gesê dat haar selfoon op 5 Junie uit haar baadjiesak by dieselfde winkel gesteel is.

“Ons het dit dadelik agtergekom en begin bel. Skielik bring ’n man die selfoon van buite die winkel af in en sê ek het dit laat val by die joghurt. Dit was juis by die joghurt waar ek agtergekom het my selfoon is uit my sak uit toe twee vrouens teen my gestamp het.”

Vir Natania maak dit nie sin dat iemand ’n selfoon optel, uit die winkel uitgaan en dit weer inbring nie.

“Die enigste afleiding wat ons kan dink, is dat ons vinnig opgetree en dadelik begin bel het. Ek kon my Iphone-opsporings toep gebruik want daar is geen manier hoe hulle my selfoon kan afsit sonder my pin nommer nie.”

Natania is baie dankbaar dat sy haar selfoon terug het.

Die 78-jaige me. Ireen Nel se selfoon is ook vanuit haar baadjie se sak gesteel terwyl sy hondekos en wortels gekoop het. Dié insident het by ’n groentewinkel gebeur.

“Ek het gebuk om die wortels te kry toe ’n vrou my met ’n  trollie gestamp het. My nuwe broek het sommer ’n winkelhaak in.  Omtrent drie vrouens was skielik om my en het so gevat-vat aan die groente om my aandag af te trek. Een van hulle het toe my selfoon uit my baadjie se sak gesteel.”

Ireen verkoop jare al Avon en omdat baie van haar bestellings op WhatsApp gedoen word, weet sy nie wie het bestel en wie nie.

Die bestuur van die winkelsentrums in die stad maan kliënte om hulle items veilig te hou soos in ’n sak wat kan toesluiter.

Deel jou nuuswenke met ons via:

Telephone: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Email: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:

     Instagram

     Twitter

    Witbank News App

     Facebook page

     Witbank News Breaking

 

 

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button