Local newsNews

Reus in sekuriteitswêreld laat groot leemte

Mnr. Casper Pretorius, eienaar van Vital Sekuriteit is dood aan Covid-19 verwante komplikasies.

’n Man wat sinoniem was met sekuriteit het groot skoene volgestaan.

Mnr. Casper Pretorius (51), eienaar van Vital Sekuriteit is op 9 Junie dood aan Covid-19 verwante komplikasies.

Hier is die skakel vir mnr. Casper Pretorius se herdenkingsdiens wat om 14:00 plaasvind

Pretorius wat Vital Sekuriteit in 1995 begin het, het eers in Ga-Nala en toe in eMalahleni gewoon.

Hy sal veral onthou word vir sy liefde vir elektronika en die passie wat hy vir sekuriteit gehad het.

“Casper het van kleintyd af ’n natuurlike aanleg vir elektronika gehad. Hy het altyd radio’s reggemaak en sy eie klein besigheid reeds op skool begin. Sy ma was sy ‘finansiële bestuurder’. Orals in ons huis is daar elektroniese kontrepsies ‒ waar dit normaal is vir ander mans om hulle braaitange te bêre in die kroeg, was Casper se laaie vol skroewedraaiers en ʼn toetser ‒ gereed om enigiets in die huis reg te maak. Hy was ook mal daaroor om outydse radio’s op te koop en reg te maak en plate te versamel.  Van ons lekkerste herinneringe sal Casper wees wat vir ons almal musiek speel uit sy versameling. As vriende en familie kom kuier en die klank blêr deur die hele buurt, dit sal altyd vir almal van die lekkerste tye saam met hom wees,” het Casper se pa, mnr. Louw Pretorius gesê.

Pretorius was ’n familieman wie se trots sy kinders, Jaco en Anke was.

“As ek my oë toemaak, sien ek hom. My sterk man voor my wat altyd reg was om die dag aan te pak, maar vanaand as hy huis toe gekom het, was hy net pappa met die worshondjies wat almal na hom gestorm kom vir hulle drukkies. Hy het dan by my en Anke kom sit om te hoor hoe haar dag was. Anke se gunsteling was as hy stories vertel het van sy jonger dae; sy wil net soos haar pappa wees as sy groot is,” het Pretorius se vrou Cindy Pretorius gesê.

 

“Casper los ʼn groot leemte in my hart. Hy was nie net my man nie, hy was my beste vriend met wie ek alles gedeel het. Ons was altyd saam. Sy liefde was suiwer en hy het my altyd op die hande gedra. Sy liefde wat hy vir my en sy kinders daagliks gegee het, was diep en opreg. Ek is so lief vir hom.”

Deel jou nuuswenke met ons via:

Telephone: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Email: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:

     Instagram

     Twitter

    Witbank News App

     Facebook page

     Witbank News Breaking    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button