Universal Music verwelkom plaaslike sanger
‘Poetry’ se lirieke het Universal Music se oor gevang.
“Dit voel nog steeds soos een groot droom, ek sukkel om te glo dat dit met my gebeur het,” is die woorde van Ashton Wheeler (28) ’n sanger van eMalahleni wat onlangs ’n kontrak losgeslaan het by musiekvervaardiger, Universal Music Group SA.
Ashton se heel eerste optrede as ’n sanger was by ’n restaurant en kuierplek in sy eie dorp hier in eMalahleni.
“Dit was ’n goeie aand gewees en is definitief iets wat ek nooit sal vergeet nie. Witbank se mense was nog altyd goed vir my,” het hy aan WITBANK NUUS vertel.
Ashton het al reg oor die land gereis waar hy van huiskonserte gedoen het tot op die ‘Brain’s Grill’ verhoog by KKNK 2019 opgetree het.
Hy het as gevolg van die Covid-19 inperking deur ’n baie moeilike tyd gegaan omdat hy nie op die verhoog kon uitkom nie. Hy het nie ’n sent agter sy naam gehad nie en moes by sy oupa se huis intrek.
“Geld was baie min, ek het nie ’n sent agter my naam gehad nie, maar my oupa het my verwelkom en ek kon by hom gaan bly het. Ek het baie verloor, maar die Here het ’n ander plan vir my gehad,” het Ashton vertel.
Die hoof van Universal Music het Ashton gekontak oor sy nuutste album ‘Poetry’ en na onderhandelinge het Ashton kontrak geteken.
Ashton sê hy sien uit na die pad vorentoe en kan nie wag om bietjie deur die land te toer en musiek vir almal te maak nie. Hy kan ook nie wag om sy gesig op TV te sien nie; sy musiekvideos waarmee hulle op die oomblik besig is en om sy liedjies op die radio te luister nie.
Ashton het nog baie harde werk wat voorlê en wil nog ’n paar albums maak en uitkry. Hy droom ook om nog oorsee te toer en sy musiek te deel met luisteraars in ander lande.
“Die is nog net die begin van alles in my loopbaan. Ek wil ook net vir my ouers dankie sê wat van skooltyd af na my geraasmaak geluister het. My hele familie het my ondersteun van dag een af. Ek wil ook net vir my meisie dankie sê wat die laaste paar maande saam my die trane en geluk van die reis gedeel het.”
Deel jou nuuswenke met ons via:
Telephone: 013 656 2490
WhatsApp: 060 866 8682
Email: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:
