Polisiekaptein nog steeds in hospitaal na aanval op N12
Kapt. Johann Grobler gaan vandag vir ’n buikskandering
“Ek voel soos Chuck Norris,” het kapt. Johann Grobler vanuit sy hospitaalbed gesê.
Die polisieman wat gewoond is aan aksie, moet noodgedwonge nog ’n paar dae in die bed bly omdat ’n koeël in sy bene vassit.
Kapt. Grobler, of Grobbies, soos hy oraloor bekend is, moet vandag vir ’n buikskandering gaan.
Die polisiekaptein is op Maandag 20 September in die been geskiet terwyl hy op die N12 gery het.
Toe hy stop is hy deur drie rowers oorval wat hom gedwing het om langs ’n veld naby Highveld Steel te stop waar hulle hom met ’n mes gesteek en ’n panga gekap het.
“Ek is drie keer gesteek met ’n mes wat soos die ou tipe Okapi-messe lyk. Was dit nie vir my dik jaghemp nie, sou dit erger gewees het. Die sny in my hemp is twee sentimeter en die snymerk in my rug is vier sentimeter,” het hy gesê.
Die rowers het hom met ’n panga teen die oor gekap. Gelukkig het sy brilraam die impak gekeer.
Kapt. Grobler het vertel dat die rowers in Zoeloe gesê het hulle gaan hom doodmaak.
Toe hy die warm bloed teen sy rug voel afsypel het hy met alle mag begin terugbaklei.
“Ek het een ding geweet en dit is as ek nie nou iets doen nie, gaan ek doodgaan.”
Die rowers het geld geëis en kapt. Grobler het die R300 wat hy in sy sak gehad het in die lug ingegooi.
Toe hulle opkyk het hy in sy bakkie gespring en bo-oor een rower gery.
Die rowers het op hom losgebrand, maar hy het aangehou jaag en gebel vir hulp.
Hy is na Life Cosmos Hospitaal geneem.
Hy bedank almal vir die omgee, die boodskappe en oproepe.
Kapt. Grobler is die Duikpunt Bevelvoerder in die Nkangala-streek.
In ’n afsonderlike voorval op Masoyi naby Witrivier is ’n 37-jarige polisiesersant ook gedurende die week geskiet.
Die sersant en sy kollega het ’n klag rakende ’n rooftog waar ’n wapen geroof is, ondersoek.
’n Verdagte het op die twee polisiemanne geskiet naby sy wegkruipplek.
Die booswig het gevlug en die sersant is na die hospitaal geneem.
Die provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Manamela het opdrag gegee dat beide die voorvalle intensief ondersoek moet word sodat die skuldiges vinnig vasgetrek kan word.
Lees meer:
Polisieman helder oordag op N12 byna gekaap
Deel jou nuuswenke met ons via:
Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: Instagram Twitter Witbank News toep Facebook page Witbank News Breaking
