Gemeenskap verloor welbekende onderwyser en rugby-afrigter
Peet en sy vrou, Rina was vroeër die maand op pad Kruger Wildtuin toe, toe die ongeluk buite Numbi-hek gebeur het
Die hartseer nuus van die afsterwe van mnr. Peet Prinsloo wat op die Hoër Tegniese Skool (HTS) se sosiale blad aangekondig is, het soos ’n veldvuur versprei in eMalahleni.
Peet en sy vrou, Rina was vroeër die maand op pad Kruger Wildtuin toe, toe die ongeluk buite Numbi-hek gebeur het.
Die egpaar was beide tot 15 Oktober in die hospitaal. Dit was net enkele dae na die ontslaan van die egpaar wat Peet nie lekker begin voel het nie.
Op Dinsdag 19 Oktober het Rina met Peet na die hospitaal gejaag, maar na ’n terugslag is hy ongelukkig oorlede.
Peet se familie en naasbestaandes vra dat mense die gesin spasie sal gee en hul wense respekteer in hiérdie moeilike tyd.
Kommentaar en mense wat met dié geliefde onderwyser se afsterwe simpatiseer stroom in op HTS Witbank se facebook-blad.
Die bookskap van HTS:
Dit is met groot hartseer en skok dat ons u moet meedeel van die afsterwe van een van ons geliefde Bloues-onderwysers, meneer Peet Prinsloo.
Meneer Prinsloo was ‘n wonderlike mens met die mooiste hart, ‘n ware staatmaker en rots! Hy was vreeslik geliefd deur sy familie, vriende, kollegas en die leerders van HTS Witbank.
Hy het ‘n hart gehad vir die onderwys en het diep spore in soveel leerders se harte getrap.
Die Bloues sal Meneer Prinsloo altyd onthou vir die puik onderwyser wat hy was, sy woorde van wysheid, sy passie vir rugby en hoe hy altyd met soveel liefde en trots van sy vrou, kinders en kleinkinders gepraat het.
Ons harte en gebede gaan uit na Meneer Prinsloo se vrou, sy kinders, kleinkinders, familie en vriende.
Vandag het ‘n ware legende sy engelvlerke gekry en ons weet hy is nou in sy ewige tuiste by die voete van ons Vader.
Rus sag Meneer Peet, jou plekkie is leeg…
Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: Instagram, Twitter Witbank News App Facebook page
