Die kat kom terug, lui die ou gesegde. En dit is presies wat gebeur het, Elsa die vyfjarige wyfiekat het na twee en ’n half jaar teruggekom na haar huis toe.
“Ons was verskriklik verbaas toe ons na twee en ’n half jaar na ons vorige huis toe terugtrek en ons huiskat skielik weer opgedaag het,” het me. Veronica Vermaak vertel.
Veronica het saggies oor Elsa gestreel en vertel sy het die katjie in Oktober 2016 opgetel.
Hulle het in Die Heuwel in haar skoonma se huis gebly toe Elsa destyds met ope arms in die huishouding verwelkom is.

In Mei 2018 moes die gesin verhuis en tussen al die gepakkery het Elsa weggeraak.
“Ons het gereeld oor die volgende paar maande weer na my skoonma se huis toe gegaan en na Elsa gesoek en selfs die bure gevra om ’n ogie te hou,” het Veronica vertel.
In September vanjaar het die gesin weer na die huis in Die Heuwel teruggetrek en skaars drie dae nadat hulle ingetrek het, het hulle ’n bekende miaau buite gehoor.
“Ek was nie seker of dit een van my ander katte was nie, maar dié vyf het rustig in die huis geslaap toe ek weer die miaau buite hoor. Ek het uitgegaan en wrintiewaar daar was Elsa. Ek het haar naam geroep en sy het dadelik gereageer.”
Veronica het gesê Elsa was glad nie verwaarloos nie en het net ’n paar bosluise op haar gehad.
“Sy het dadelik ingekom en haarself tuisgemaak asof sy die afgelope twee en ’n half jaar glad nie eers weg was nie.”
Deel jou nuusbrokkies met ons: Telephone: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Email: wtbnews@mweb.co.za
Volg ons op die volgende platforms: Instagram, Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
