Local newsNews

eMalahleni se twee bekende inwoners, Jumbo en Jakkie die seekoeie is terug

Die twee seekoeie wat vir ’n rukkie lank ‘migreer’ het, is weer terug.

Die gras is nie altyd groener aan die anderkant nie.

Dit wil lyk of die seekoeie, wat mnr. Jumbo van der Merwe se plaasdam hul tuiste gemaak het, die gewilde sêding gou agtergekom het.

Jumbo en Jakkie, soos die twee seekoeie gedoop is, is terug nadat hulle die plaasdam op die Zaaihoekpad verruil het vir ’n dam sowat 7km  verder aan op die Verenapad.

Dié area was glad nie ’n opgradering vir die twee seekoeie nie, want hulle het tussen ’n besige Verenapad en ’n raserige gemeenskap ingetrek.

“Ons was bekommerd oor die veiligheid van die inwoners omdat dié twee ietwat kort van humeur kan wees,” het mnr. Piet Wassenaar vertel.

Piet het ’n permit van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap om probleemdiere te verwyder en het van die begin af ’n ogie op die paartjie gehou.

Dié twee het opslae gemaak toe hulle op 12 April doodluiters verby Jumbo se voordeur gestap, bietjie in die kikoejoegras gewei en dam toe is.

Daar het die paartjie vir groot opwinding gesorg as hulle elke dan en wan oë gewys het.

Maar, dit was nie lank nie of die twee het ’n gier gekry om te ‘verhuis’.

Nadat hulle uiteindelik in die dam naby die nedersetting gevind is, is daar beplan om hulle na ‘veiliger’ water te verskuif.

Maar, natuurbewaring het hulle misgis met die twee toe hulle met hulle boot probeer het om die seekoeie te vang.

“Die seekoeie het eers gedink dis ’n speletjie en het geduik, dan weer oë gewys en weer geduik. Die bul het moeg geraak vir die geel gevaarte wat hulle rus kom versteur en het natuurbewaring se boot begin stamp. Die volgende oomblik toe sink daardie gevaarlike seekoeitande in die boot in,” het Piet vertel.

Intussen maak Jumbo elke oggend drade en hekke op die plaas reg, want sy naamgenoot en die se wyfie het sy groentetuin ontdek.

LEES MEER

Middelburg se seekoeie het in eMalahleni kom kuier

Jumbo se ‘gaste’ het geboek vir die Paasnaweek

Krokodille by seekoeie gewaar

Seekoeie-gaste sê gou ‘hallo’ en verdwyn weer onder die water


Deel jou nuusbrokkies met ons – Telefoon: 013 656 2490, WhatsApp: 060 866 8682 of  Epos: info@witbanknews.co.za

Volg ons ook op dié sosiale media platforms: InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button