Jakkie en Jumbo, die twee ‘wandelende’ seekoeie het nou bietjie naby die Duvha Brug gaan uitspan
Die twee seekoeie wat Emalahleni al ’n rukkie hul tuiste gemaak het, is nou in Witbank Dam naby die Duvha-brug opgemerk.
Die twee seekoeie wat al bekende inwoners van eMalahleni is, het nou bietjie boontoe geskuif na die boloop van Witbank Dam toe.
Hulle spore is gevind by die Duvha-brug waar hulle gewei het voor hulle in die dam ingegaan het.
Jumbo en Jakkie, soos die twee seekoeie gedoop is, is verlede week in ’n poel water op die ou-Middelburgpad opgemerk.
Oor die naweek het hulle al wei-wei Duvha-brug se kant toe gegaan.
Inwoners aan die oewer van die dam word gewaarsku om nie te naby aan die twee te gaan met hul bote of jetski’s nie.
Mnr. Piet Wassenaar, wat ’n permit het van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap om probleemdiere te verwyder het van die begin af ’n ogie op die paartjie gehou.
Hy het gesê dat die diere baie onvoorspelbaar en uiters gevaarlik is.
Hulle het onlangs ’n gat in natuurbewaring se boot gebyt toe dié hulle wou aankeer om na ’n veiliger dam toe te vervoer.
“Die seekoeie het eers gedink dis ’n speletjie en het geduik, dan weer oë gewys en weer geduik. Die bul het moeg geraak vir die geel gevaarte wat hulle rus kom versteur en het natuurbewaring se boot begin stamp. Die volgende oomblik toe sink daardie gevaarlike seekoeitande in die boot in,” het Piet vertel.
Jumbo en Jakkie het op 12 April hulself in mnr. Jumbo van der Merwe se plaasdam gaan tuismaak.
Jumbo moes gereeld hekke en drade vervang en selfs sy groentetuin het deurgeloop.
SIEN DIE VIDEO HIER: Sien hier hoe die seekoeie wat ’n ruk lank in eMalahleni oorgebly het, natuurbewaring se boot stukkend byt.
Die twee het ’n rukkie later besluit om te trek en Piet het hulle in ’n dam naby ’n nedersetting gevind.
Dis daar waar hulle natuurbewaring se boot gebyt het.
“Ons was bekommerd oor die veiligheid van die inwoners omdat dié twee ietwat kort van humeur kan wees,” het Piet gesê.
LEES MEER
Deel jou nuusbrokkies met ons – Telefoon: 013 656 2490, WhatsApp: 060 866 8682 of Epos: info@witbanknews.co.za
Volg ons ook op dié sosiale media platforms: Instagram, Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
