Moordenaars wat kleuter in oond wou druk en sy oupa vermoor het kry lewenslange vonnis
“Wie is ek om hulle te haat? Ek het hulle lankal vergewe …”
Twee mans is onlangs elk lewenslank gevonnis vir die moord op Peet Swanepoel in 2019.
Witbank Landdroshof het Khulufelo Makhudu (24) en Gift Mbola (28) op Dinsdag 8 Augustus elk lewenslank gevonnis vir moord en 5 jaar lank elk vir roof met verswarende omstandighede.
Swanepoel (51) het by sy huis gestop toe hy op 28 Augustus 2019 koelbloedig in die oprit doodgeskiet is.
In die huis was Annelize Swanepoel (55) deurdrenk met bloed na ’n meedoënlose aanval deur dieselfde mans wat haar man enkele minute vantevore geskiet het.
“Die rowers het gedreig hulle gaan ons kleinseun, Franco, in die oond sit. My wangbeen en neus is gebreek toe hulle my met die agterkant van ’n vuurwapen geslaan het. Terwyl ek moes pleit dat hulle Franco se lewe spaar het hulle deur die huis gegaan op soek na geld.”
Die drie rowers het sewe vuurwapens, Annelize se juwele en twee televisiestelle in haar kar gelaai en weggejaag.
Haar kar is later naby die Kusile-afrit teruggekry.
Sersant Levy Rangwaga en sersant Themba Mokwena van Witbank SAPS se trio-taakspan het dadelik met die ondersoek begin en is deur die hof gekomplimenteer vir hulle puik ondersoekwerk wat gelei het tot die suksesvolle vonnis.
“Ons hoop dié vonnis sal dien as ’n afskrikmiddel vir die wat enige misdaad, veral geweldsmisdaad beplan,” het die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Monica Nyuswa gesê.
“Daar het so baie gebeur in die afgelope vier jaar. Ons lewe het handomkeer verander. Ons sukkel om kop bo water te hou. Daar is soveel emosionele letsels, maar, ek dra nie ’n wrok nie. Ek vergewe hulle. Hulle het nie geweet wat hulle doen nie,” het Annelize in ’n onderhoud met WITBANK NUUS gesê.
Gaan lees gerus die volle berig in die week se uitgawe wat nou op die rakke is.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitterof Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
