’Ek mis jou Nando’ huil ma na seun se dood agt maande gelede
Ma vertel van leemte na haar enigste seun se dood.
Kersfees is moeilik vir Anamaria Botha.
Dit sal die eerste Kersfees wees sonder haar seun, Fernando Agstinho Sena (23) wat vroeër vanjaar in ’n motorongeluk dood is.
Sena was op Sondag, 9 April op die Ogies-pad onderweg om ’n voertuig te sleep toe hy in ’n kop-aan-kop botsing met ’n ander voertuig betrokke was.
Hy was ’n insleepdiens-drywer.
Kersfeesversierings hang oral en dit reflekteer in Botha se oë waarin die trane opdam elke keer as sy oor haar ‘Nando’ praat.
Sy kan die hartseer nie wegsteek nie, dis diep ingeëts op haar gesig.
“Mense wat insleepdiens-drywers is, is nie aasvoëls nie. Hulle is gewoonlik eerste op die toneel en bly tot die laaste kar weggesleep is. Hulle sien die lelik in die lewe, terselfdertyd is hulle die sprankie hoop as hulle op ’n toneel kom,” het Botha gesê.

Sy het die trane van haar wange afgevee en na haar driejarige kleinseun Jayden gekyk, “Ek het darem ’n stukkie van Nando oor”.
“Diegene wat insleepdiens-drywers afkraak moet onthou hulle is ook pappas wat vir gesinne moet sorg …”
Botha het vertel dat sy haar seun se stukkende liggaam gesien het op die ongelukstoneel.
“Ek het sy hand vasgehou en hy het gesê, ‘Mamma hou my vas, ek gaan dood’. Ek het by die Here gepleit vir my kind se lewe.”
Die lewe het aangegaan, vir Botha is hierdie feesseisoen deurdrenk met trane, maar sy het gesê die woelige Jayden hou sy ouma se gedagtes besig.
Op 14 April het die insleepdiens-drywers ’n laaste eerbetoon aan Botha gegee.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
