Oud-onderwyser van Kriel oorlede
Hy was 'n ware Krielie en het vir alles 'n plan gehad, of dit nou was om kunsmis te kry, die sportvelde te laat spuit of om bane te merk, Jan was daar. Sy grootste monument is waarskynlik die pawiljoen wat hy die inisiatief voor geneem het en dit laat bou het.
’n Welbekende in Ga-Nala (Kriel) en voormalige onderwyser van Laerskool Onverwacht en Hoërskool Kriel is gisteroggend (1 Januarie) oorlede.
Laerskool Onverwacht het gesê hulle sal Meneer Jan Otto onthou as ’n uitsonderlike onderwyser en sportafrigter wat ’n positiewe bydrae in die lewens van leerders, nie net by Laerskool Onverwacht nie, maar ook die gemeenskap van Kriel gemaak het.
”Ons betuig ons meegevoel met sy vrou en familie in hierdie moeilike tyd. Mag sy siel rus in ewige vrede,” was die boodskap van die skool.
Oud-skoolhoof van Hoërskool Kriel, mnr. Pottie Potgieter het gesê dat Meneer Otto ‘n onmisbare skakel in die sukses van Hoërskool Kriel was.
Hy het sy eie unieke manier gehad waarmee hy met kinders gewerk het.
Hy was trots op sy werk en het altyd gespog dat kinders na twee jaar in sy klas ten minste kon Afrikaans praat.
“Buite die klas was hy vir die skool goud werd, sy kennis van rugby, krieket en alle ander sportsoorte was verstommend. Hy kon enige span motiveer en het geen moeite ontsien om sukses te behaal nie. Op rugbytoere was hy ‘n legende en ek is seker elke speler wat saam op toer was sal ‘n staaltjie of twee kan vertel oor Meneer Otto en die toer. Selfs op provinsiale vlak by die Pumas het hy sy merk gemaak. Watter eerstespan speler sal ooit die Vrydagaande se motiveringspraatjie in die Otto’s se sitkamer vergeet?
“Hy was ‘n ware Krielie en het vir alles ‘n plan gehad, of dit nou was om kunsmis te kry, die sportvelde te laat spuit of om bane te merk, Jan was daar. Sy grootste monument is waarskynlik die pawiljoen wat hy die inisiatief voor geneem het en dit laat bou het.
“Jan se mees indrukwekkende eienskap was sy lojaliteit teenoor die skool, leerlinge van die skool, sy kollegas en teenoor my as skoolhoof en vriend. Ons eer sy nalatenskap by die skool en sal altyd sy positiewe ingesteldheid teenoor die lewe onthou. Ons groet een van die grondleggers van Hoërskool Kriel met groot hartseer,” het Potgieter afgesluit.
Meneer Otto het ook by Laerskool Krielpark skoolgegee.
“Jan was ‘n merkwaardige onderwyser en besonderse man en vriend,” het mnr. Max Nel van Laerskool Krielpark hom beskryf.
Op Facebook stroom die boodskappe van medelye in.
“Dit is baie hartseer. Hy was een van my ‘favorite’ onderwysers. Mag Meneer in vrede rus. My hart gaan uit aan Mnr. Otto se familie. Mag God julle dra deur hierdie moeilike tyd en vertroos. Baie sterkte.” – Yolandie Bekker.
“He was my Afrikaans teacher at High School. May his soul rest in peace, my sincere condolences to his wife and family,” – Teressa Nxumalo.
“Rus in vrede Meneer Otto. Baie goeie onderwyser gewees! Sterkte aan sy familie en vriende.” Chantelle Pienaar.
Het jy by Meneer Otto klas gekry?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
