Mamma sê dankie aan engel wat haar inkopies betaal het
"Ek as jong mamma kyk nou met ander oë na die wêreld," het die dankbare mamma gesê.
’n Barmhartige Samaritaan se goeie daad het baie goeie terugvoer op sosiale media gekry.
Me. Unique Barrett het gesê sy wil net vir die man wat haar kruideniersware betaal het, baie dankie sê.
Sy was op 5 Maart in ’n winkel met baba Chante-nique Smit om die nodige goedjies te kry, toe ’n man wat voor haar by die kassiere was, sy trollie opgeskuif het om haar toe te laat om eerste haar kruideniersware te betaal.
“Toe ek my goedjies wou betaal, toe sê hy vir die kassier sy moet my goedjies en sy goed saam sit, hy sal betaal vir dit. Ek het vir hom gesê dis nie nodig nie, maar hy het aangedring. Ek het dadelik uitgebars in trane en het hom ’n lekker groot druk gaan gee en dankie gesê. Die man het net geweet wat ek op daardie oomblik nodig gehad het,” het Unique gesê.
Sy het gesê sy sal daardie oomblik vir altyd onthou.
“Ek voel in vandag se lewe gee almal net om oor politiek en almal wil altyd teen mekaar staan. Maar op daardie dag het ek besef mens kry nog mense wat omgee, wat saamstaan, en dis wat ons moet doen; saamstaan en daar wees vir mekaar. Ek as jong mamma kyk nou met ander oë na die wêreld.”
Unique het ’n spesiale boodskap vir die barmhartige Samaritaan, “Jy is ’n engel, ’n man duisend. Iemand wat jy glad nie ken nie het jy gehelp en ek hoop om jou weer te kan sien om net weereens baie dankie te kan sê en vir jou iets terug te kan gee. Die Here het jou mooi gemaak, bly die ‘awesome’ mens wat jy is.”
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
