Local newsNews

Riool swembaddens in Ga-Nala gratis van die munisipaliteit

Huiseienaars in Ga-Nala trek na gastehuise toe oor riool

Huiseienaars in Lusthofstraat in Ga-Nala, is duidelik besig om hulself voor te berei vir een of ander groot swemkompetisie, of dalk is dit die nuutste rivieroewer eiendomme? Een van die dae gaan hulle nog letterlik ’n ware ‘asemrowende’ binnenshuise swembad ook hê.

Daar is hordes goetertjies met vlerke wat al om die water brom en gons.

Riool amper by die deur.

Al probleem is, dit is nie water nie, dit is riool.

Die pompstasie in Lusthofstraat is al maande gelede gevandaliseer, en die riool loop elke dag ’n bietjie dieper in almal se tuine in.

Die huiseienaars het nou al uitgetrek uit hul huise uit en in gastehuise gaan bly.

Riool borrel uit.

 

“Dit stink só erg, geen mens kan meer daar lewe nie. Die mense moes trek, hulle het begin siek raak van die septiese water wat 24/7 al om hulle is. Die muskiete, vlieë, rotte en kakkerlakke het begin ’n plaag word in die hele straat,” het Cornelius Conradie wat in Lusthofstraat bly, gesê .

 

Die probleem is al op Saterdag, 23 Desember verlede jaar, aangemeld by die munisipaliteit en die wykraadslid.

Dit is nou al April en die riool vloei nog steeds.

Die agtertuin vol riool.

“Hoe kan die munisipaliteit verwag dat mense so moet lewe, nie eens van diere word verwag om in hulle eie riool te lewe nie. Ons betaal ons rekeninge betyds en hierdie is die diens wat ons kry,” het Cornelius verder gesê.

Riool neem die hele voortuin oor.

Dit kos nou die mense ekstra geld om in alternatiewe blyplekke te gaan bly, en dit sit hulle huise in gevaar om by ingebreek te word.

So as jy nie ’n reuksin of oë het nie, en goggas pla jou nie, sal jy dalk een van die dae ’n eiendom kan koop in Lusthofstraat met ’n rioolrivier as ’n gratis water kenmerk.

Lusthofstraat se riool stroom al amper by voordeure in.

WITBANK NUUS het kontak gemaak met wykraadslid Lucas Nzonzi meer as twee weke gelede, “Die munisipaliteit is bewus van die groot probleem. ’n Kontrakteur is alreeds aangestel om dit reg te kom maak, maar hulle wag vir gereedskap om die pype in die pompstasie te kan vervang. Sover as wat ek weet, is hulle veronderstel om die week nog die probleem te herstel.”

 

“Die pompstasie word dikwels gevandaliseer. Koperryke materiaal word al van laas jaar Desember gesteel. Die laaste vandaliste het die baksteenmuur van die pomphuis afgebreek om in te kan kom. Die muur is darem nou al reggemaak en die pompe herstel. Die span is besig om te wag vir ’n nuwe elektriese paneel om gemaak te word. Die pompstasie gaan moontlik al teen Saterdag herstel wees,” het munisipale woordvoerder, Lebo Mofokeng meer as twee weke gelede gesê. Die probleem is nou nog nie opgelos nie.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button