Kanker het niks by haar gesteel nie
Bernice Fourie doen nou vrywilligers werk nadat sy kanker oorleef het
Al het borskanker baie gevat van Bernice Fourie, het dit eintlik op ’n manier niks by haar geneem nie.
Haar hart is nou nog groter as wat dit ooit was.
In 2018 is Bernice gediagnoseer met borskanker.
Sy is deur chemotherapie, Herseptin-blokkers en ’n dubbele mastektomie met geen rekonstruksie nie.
Sy het nou al die oorlewendesmyl bereik, maar wat kanker aan ’n mens doen, liggaamlik en geestelik, kan mens nie vir iemand beskryf nie, tensy jyself daardeur gaan.
“Ek dank God elke dag vir my genesing en gesondheid, al voel ek soms leeg en kaal na ’n dubbele mastektomie met geen rekonstruksie nie. Dit is maar elke vrou se besluit en my kop het gesê dit wou steel van jou, hoekom nou weer deur iets gaan soos rekonstruksie wat ook letsels laat. Ek sê baie vir myself en vir ander kanker vrouens wat hierdie pad stap, onthou, al is jy deur ’n mastektomie, sonder rekonstruksie, bly jy steeds ’n vrou. Jou vrou-wees vir jou man is in jou hart en jou siel. My man het my besluit gerespekteer en aanvaar my soos ek is. Ek het deur my reis besluit om uit te reik na ander wat ook deur kanker gaan – ek het selfs begin met my eie Kansa vrywilligerswerk,” het sy WITBANK NUUS vertel.
Bernice spandeer haar spaartyd deur met minderbevoorregte pasiënte met kanker te gaan gesels en hulle op te bou en by te staan.
As hulle toiletware of komberse nodig het, maak sy ’n plan. Binne minute in haar geselskap sien mens hoe die liefde uit haar uitborrel.
Sy het altyd tyd vir enigiemand wat iets nodig het.
Sy maak allerlei goedjies deur die jaar bymekaar vir babas wat niks het nie, sy gaan gee speelgoed uit by hospitale, sy doen motiverende toesprake vir funksies en dan het sy nog ’n gesin waarvoor sy sorg ook.
Waarlik ’n vrou met ’n hart van goud, wat kanker gebruik het om sterker te word en ander mense te help, in plaas van net sit en vergaan.
“Ek vra dat as daar enigiemand is wat rolstoele, bedpanne, babadoeke asook doeke vir volwassenes, kombersies, blikmelk, badgoedjies, Aqueous room, badseep, waslappies, ‘Wet Wipes,’ babaklere en klere vir volwassene, groot komberse of beddegoed het wat hul wil skenk, sal dit so gaaf wees en die mense sal baie dankbaar wees,” het Bernice gevra.
Bernice is mooi van binne en buite, en sy deel daardie mooi hart vol liefde met almal om haar.
Kanker was net ’n katalisator vir die uitreik wat sy nou doen vir mense wat weet hoe moeilik die reis is om deur kanker te gaan.
Sy gebruik haar storie en haar ondervinding om vir ander hoop te gee en te wys die lewe gaan aan, en die lewe gaan nog beter wees wanneer hulle ook die oorlewendesmyl bereik.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram
