Local newsNews

Al sien die ogies nie, die hartjie onthou

Oom John en sy geliefkoosde poedel Tammy word weer herenig

Elke donker wolkie het ’n silwer randjie, en dit is werklik die verhaal van Tammy, die 19-jaar-oue poedel en Oom John Dougans (90).
As dit nie vir Trudie Raath en haar hart van goud was nie, wie weet wat met arme Tammy sou gebeur het?
Trudie is al haar hele lewe lank ’n diereliefhebber en red al diere van 2010 af in eMalahleni.

Een kyk na haar Facebook-blad en dit word baie duidelik gemaak, maar sy het nie geweet van die sprokiesverhaal wat voorlê toe sy twee jaar gelede ’n verwaarloosde vuil hondjie in ’n krat gekry het nie.

Die klein, half verkluimde hondjie wat sopnat en omring was met droë broodkorsies, was nie net enige straatbrak nie, sy was die liefde van Oom John se lewe.

Oom John het sy geliefkoosde hondjie aan mense toevertrou wat hy gedink het mooi na haar sou kyk toe hy na ’n ouetehuis in Durban moes gaan.

Dit het sy hart gebreek om haar te los, maar hy het geglo haar nuwe eienaars sal haar net so lief hê soos hy.

Oom John het gereeld ’n ander vrou gebel om uit te vind hoe dit met sy dierbare Tammy gaan, totdat die dame eendag vir hom die slegte nuus gegee het – die mense kyk nie goed na Tammy nie. Dit is waar die held van honde, Trudie, in die storie instap.

Trudie het die oproep gekry oor Tammy en voor enigiemand nog hulle oë kon uitvee, was sy daar om uit te vind in presies watse omstandighede sy in gehou word. Sy sou nooit kon glo die hartseer toneel wat sy sou vind nie.

In ’n swart bierkrat, agter in ’n erf, het sy vir Tammy gekry. Sy was die hele vorige aand buite in die reën en koue, sonder skuiling en sy was in ’n baie slegte kondisie.

Sy was sopnat en het in haar eie ontlasting en urine op ’n kussing gelê. Die kussing was vieslik vuil en natter as die hondjie.
Al wat sy gehad het vir kos, was ou gemufde stukkies broodkorsies wat al om die krat gelê het. Trudie was só ontsteld oor die toestand waarin hierdie arme diertjie verkeer het.
Trudie het saggies met Tammy begin praat, haar opgetel sonder dat sy haar een keer gebyt het en haar in haar baadjie toegedraai.

Sy is onmiddellik na die veearts toe geneem, waar sy gediagnoseer is met longontsteking.
Tammy was vir drie weke in die diere-hospitaal. Trudie het haar huis toe geneem en haar lekker vet begin voer.

Eendag uit die bloute kry sy ’n oproep van Oom John af. Trudie en Oom John het vir ’n lang ruk met mekaar gesels en hy het elke week gebel om uit te vind oor sy Tammy.

Elke week moes Trudie vir hom fotos stuur en hom van haar vertel.

Hy het nooit vergeet van sy Tammy nie, en ook nooit ophou lief wees vir haar nie.
Tammy het Trudie se skaduwee geword en haar orals begin volg.

Tammy is heeltemal blind en het begin om Trudie se stem te volg. Sy het weer begin om haar stertjie te swaai en die lewe te geniet.
In Maart 2024, het Oom John se dogter teruggetrek eMalahleni toe.

Hy besluit toe hy trek saam met haar terug. Die heel eerste ding wat hy wou doen, is om sy Tammy te gaan sien.

Op 22 Maart het hy uiteindelik na meer as twee jaar weer sy Nana, sy troetelnaampie vir Tammy, gesien.
Toe Tammy sy stem hoor, hardloop sy na hom toe en spring in sy arms in.

Haar hartjie het hom ook nooit vergeet nie, en al kon haar ogies nie sien nie, het haar hartjie geweet presies wie hy is.

Die trane het gevloei en Oom John wou nie huis toe gaan nie.

Hy het nie gedink hy sou ooit weer sy Nana sien nie.
Tammy bly nog steeds by Trudie, maar Oom John gaan kuier gereeld en verneem altyd na haar welstand.

Só eindig die sprokiesverhaal van ’n klein blinde hondjie wie se hartjie nooit haar eienaar vergeet het nie.

Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
• Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
• Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 
Back to top button