Local newsNews

Besighede is keelvol vir waterprobleme

Besigheidseienaars sukkel al ses maande met water

Besigheidseienaars in Del Judor Uitbreiding 12 is op die punt om hul hare uit hul koppe te trek uit frustrasie.

In die laaste ses maande het hulle net hier en daar water gehad vir twee weke, maar meeste van die tyd is die krane droog.

“Ons vra nie vir die aarde nie, ons wil graag net water hê sodat ons werkers en kliënte gebruik kan maak van die badkamers, en sodat ons so af en toe ’n vloer kan skoonmaak,” het besigheidseienaar Paul Cousins, gesê.

Paul het nou al vir amper 20 jaar ’n besigheid in eMalahleni, en het nog nooit soveel waterprobleme gehad nie.

Wat hy en al sy bure nie kan verstaan nie, is hoe het ander besighede, ’n blok van hulle af, water?

 

Die kostes wat besigheidseienaars moet dra om water te koop, is besig om besighede te pootjie.

Meeste besigheidseienaars moes al watertenks laat opsit met geld uit hul eie sakke en hul sê dat dit nou al so erg word dat hulle begin spaar om boorgate te sink.

 

“Hoe verwag die munisipaliteit dat ons so moet werk. Dit breek ons harte om vir ons werkers te moet sê hulle kan net die toilet spoel na drie of vier mense al gegaan het, en om hulle te vra om hulle nommer twee toilet gebruik by die huis te doen,” het Christa Bezuidenhout gesê.

 

Christa het nou al ’n bordjie laat maak om in hulle winkel op te sit dat daar glad nie ’n toilet is nie, en kan ongelukkig nie meer mense van die publiek help as hulle die badkamer wil gebruik nie.

Sy is nou maar net vier maande oop vir besigheid, en in die vier maande was die water baie meer af as aan.

 

“Dit help nie om te kla by die munisipaliteit nie, niks word gedoen nie. Ons benodig water vir skoonmaak en badkamers, en dit kos baie geld uit ons sakke uit. Ons moes ook nou al geld spandeer op tenks en moet elke dag drinkwater vir ons werkers koop,” het Eugene Combrink vir WITBANK NUUS vertel.

Eugene werk met batterye, en soms is dit noodsaaklik dat daar water beskikbaar is om hande te kan was.

Die waterprobleme in eMalahleni is nou al ou nuus, en dit voel nie asof daar lig (of water) aan die einde van die water-tonnel ooit sal wees nie.

Die gemeenskap, besigheidseienaars en almal wat in die omgewing woon of werk, moet maar net tevrede wees daarmee dat in eMalahleni lyk dit nie meer asof skoon water ’n basiese mensereg is nie, maar iets wat net beskikbaar is aan dié wat kan bekostig om dit ten duurste te kan koop.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitterof Instagram

Check Also
Close
 
Back to top button