Local newsNews

Plaaslike stadsbeplanner neem leiding en sorteer bou-afdeling uit – maar daar is nog baie om te doen

Die bou-afdeling by die plaaslike munisipaliteit het ’n splinternuwe baadjie aangetrek.

Toe stadsbeplanner, Laurette Swarts by die bou-afdeling instap om Spluma-probleme uit te sorteer, het sy vanself besluit – iets moet hier gedoen word. Haar groot bekommernis was hoe lank dit vat vir bouplanne om goedgekeur te word, waarvoor almal al keelvol was.
Sy het dadelik aan die werk gespring en ’n nie-winsgewende organisasie ‘Community Forum Association’ gestig.
Sy het besef dat die werkers by die bou-afdeling hul bes probeer het om die bouplanne en alles anders wat nodig was, in orde te kry.
Dit was ’n té groot taak vir net hulle om te kan doen, sonder finansiële hulp, onderbemanning en nie genoeg ure in die dag wat hulle gehad het om alles te probeer organiseer nie.
Die probleme het begin ernstig raak toe al die bouplanne van elke satelliet dorpie om eMalahleni alles by net die een gebou gestoor moes word. Dit was chaos.
Met die Spluma op almal se tonge deesdae, het meeste mense gesug sodra hulle besef het hulle gaan die hele dag planne moet gaan soek by die bou-afdeling – ’n onderneming wat mense van die gemeenskap heeltemal gedaan laat voel het nog voordat mens eers begin het.

“Dit was oorweldigend vir die werkers daar. Die gemeenskap het aanhou kla maar niemand het iets daaroor gedoen nie. Dit is toe ek besluit het om te probeer die situasie beter maak vir almal,” het Laurette verduidelik oor wat haar motiveer het.

Sy het vir omtrent drie jaar gesukkel om toestemming te kry by die munisipalitiet en om fondse te kry by borge om die bou-afdeling beter te kan maak vir almal.

Na ’n baie lang pad stap om dit ’n werklikheid te maak, het sy uiteindelik die toestemming gekry om voort te gaan.

“Ons het swart sakke vol gemors verwyder, rekenaars opgestel, lessenaars vir die werkers bestel en net gedoen wat ons kon om dinge beter te maak en meer doeltreffend vir enigiemand wat soontoe moet gaan vir bouplanne. Die moraal van die werkers is ook nou weer hoog, nadat hulle in ’n skoon werksomgewing is met beter beplanning en organisasie. Dit is ’n wen-wen vir almal,” het Laurette verder gesê.

“Wat mense nie besef nie, is dat indien jou bouplanne wel weg is, gaan dit die huiseienaar ten minste R45 per vierkante meter kos om ’n argitek te kry om bouplanne oor te kom doen, en dit is nog ’n rede waarom ek verplig gevoel het om hierdie reuse onderneming te voltooi”.

Laurette het tot seker gemaak dat die teëls by die bou-afdeling en reggemaak word, nadat ’n besoeker sy voete oopgesny het op die gebreekte teëls. Verder moet die vloer, wat deur water beskadig was, oorgedoen word.

As Laurette ’n probleem sien, kla sy nie net nie, sy begin aan oplossings dink, maar oplossings kos gewoonlik geld.
Die bou-afdeling in nog ver van klaar af.

Daar is nog baie wat gedoen moet word om seker te maak dinge loop soos hul moet.

Die planne vir die toekoms is om ’n rekenaarstelsel te kan implementeer wat die programme kan hanteer sodat al die bouplanne geskandeer kan word en dat daar nie meer hope planne orals sal lê nie.
Meer liasseerkabinette word benodig en beter rekenaars wat die nodige programme kan hanteer moet ingestel word en mure moet ook geverf word.
Sy hou haar hand uit na die gemeenskap vir donasies om hierdie droom ’n werklikheid te maak, en sy glo dit kan gebeur met die gemeenskap se ondersteuning.

“Die tyd is nou verby dat ons net weg kan kyk. Die munisipaliteit kan nie en gaan ook nie al hierdie probleme self kan uitsorteer nie. Nou is die tyd wat ons saam moet staan en iets doen, voor daar niks oor is om te red nie. As almal net ’n klein bietjie bydra, dan kan dit ’n groot verskil maak. Ons moet nou opstaan om ons dorp reg te ruk, en saam kan ons dit doen,” het Laurette geëindig.

 

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter

Check Also
Close
 
Back to top button